Kerk takel behuisingstekort

Elizabeth Josef
Sem Abiatar, ’n pastoor by die Christ Victory Ministry of All Nations-kerk, sê die welstand van die mense is die kern van hul werk.
In die afgelope paar maande het Abiatar, saam met verskeie vennote en deur middel van ’n spesiale behuisingsprojek, tien laekostehuise gebou en aan begunstigdes op die Iindjinda nedersetting in die Oshanastreek oorhandig.
Die huise is deur die Hand of Mercy Housing Project gebou, wat verlede jaar gestig is. Van die huise is met elektrisiteit en ablusiegeriewe toegerus.
Volgens Abiatar het die kerk die eerste huise in Januarie oorhandig. “Die behuising is gratis, en dit het sowat N$190 000 gekos. Geen betaling word deur die begunstigdes vereis nie. Die huis in Ondangwa wat ons vanjaar oorhandig het, beskik oor water, elektrisiteit en ’n spoeltoilet,” het hy gesê.
Volgens Abiatar word begunstigdes noukeurig gekies om te verseker dat hulle vir bystand kwalifiseer.
“Daarbenewens het die kerk 206 sakke sement (80 in Ondangwa en 126 in Windhoek) aan bejaardes en minderbevoorregtes geskenk ten einde hul huise te begin bou,” het hy gesê.
Die kerk glo dat hulle deur welwillendheid hoop om gemeenskappe en mense in nood te help.
“Die gemeenskap ken die kerk as ’n verskaffer van humanitêre bystand, en opvoedkundige geleenthede vir die minderbevoorregtes, die versorging van weeskinders en bejaardes - so ons sal voortgaan,” het hy afgesluit.