Afrika-ambisie sal méér kragte tap in Khomas100
Bergfietsry
Die Suid-Afrikaners Hayley Preen en Marc Pritzen is van die mees gedugte inskrywings uit die buiteland.
Die Khomas100 se splinternuwe status as die Afrika-kampioenskap in grondpadfietsry (gravel biking) sal Saterdag sommer dadelik die vlak van kompetisie hoër druk as in sy suksesvolle debuut-aanbieding verlede jaar.Die bergfietsresies oor 157 kilometer (klimmeters nagenoeg 2 500) sal vir die elite mans en vroue ook punte op die wêreldbeheerliggaam (UCI) se ranglys verdien. Die geleentheid dien ook as die Namibiese kampioenskap in hierdie fietsrykode.
Met die rugsteun van Hollard Namibia as borg, staan geldpryse van N$25 000, N$20 000 en N$15 000 vir die eerste voltooiers in beide die elite mans- en vroueresiese op die spel. ‘n Bykomende N$10 000 wink vir die Afrika-kampioene, en N$5 000 vir die Namibiese titelhouers.
Namibië se gedugte Alex Miller (nou van Swatt Club Racing) is terug om sy titel in die mansresies te verdedig en hoewel Vera Looser weens verpligtinge in Europa nie ingeskryf het nie, word die plaaslike aanslag gelei deur Anri Greeff wat verlede jaar met minder as ‘n sekonde tweede ná Looser was.
Die finale lys van inskrywings bevat verskeie gedugte name uit die buiteland wat die gesogte resies deur die Khomas Hochland wil kom tem, wat Saterdag om 07:00 by die CYMOT Hilltop by Grove Mall in Kleine Kuppe wegspring, met die eindpunt weer by Gross Barmen naby Okahandja, soos verlede jaar.
VROUE 157 km
In die vroueresies sal Hayley Preen van Suid-Afrika een van diegene wees op wie heelwat aandag behoort te wees.
Die 27-jarige Preen (Team Honeycomb 226ers) se stamboek sluit die Suid-Afrikaanse nasionale padfietskampioenskap van 2021, in haar eerste jaar as ‘n elite ryer in. Sy het sedertdien nasionale titels in grondpadresies (2022), kriterium (2023) en tydtoets (2024) bygevoeg en moes twee keer met die silwermedalje in die SA nasionale marathon-bergfietskampioenskap tevrede wees.
By verlede jaar se Afrikaspele in Kameroen het Preen twee goue medaljes (padresies en kriterium) verower. Meer onlangs het sy onder meer in die Unbound Gravel-resies in die VSA (meer as 200 myl) meegeding.
Neza Violette Irakoze (24) was verlede jaar tweede in Rwanda se nasionale padfietsresies asook in die individuele tydtoetskampioenskap. Sy het ook heelwat blootstelling in verskillende Europese byeenkomste.
Die vroue elite inskrywings: Hayley Preen (RSA), Catherine Colyn (RSA), Sonica Klopper (RSA), Hayley Simmonds (Brittanje); Anri Greeff, Monique du Plessis, Louise Breed, Belinda van Rhyn (almal van Namibië).
Vroue 19-34 jaar: Darien le Roux (RSA), Camille Jeurissen (België), Anique Schoeman, Charly Taylor, Annemarie Kruger (almal van Namibië).
Vroue 35-39 jaar: Michelle Doman (RSA), Nina Holtrup (Duitsland), Melissa Hinz, Nicola Sauber, Courtney Liebenberg, Jana van Dyk, Monja Scholtz, Luanne van der Schyff, Maike Bochert (almal Namibiërs).
MANS 157 km
Drikus Coetzee was verlede jaar tweede ná Alex Miller in die Khomas100, terwyl Martin Freyer ook vir ‘n lang tyd sterk geplaas was voordat sy wenkanse deur twee meganiese terugslae beëindig is.
Coetzee is wel vir Saterdag ingeskryf, maar het sy prioriteit verklaar om genoeg van sy energie te spaar vir sy komende ultra-uitdaging (die Badlands in Spanje oor 800 km) einde vandeesmaand.
Die jong Namibiër Jaques Hanekom was verlede jaar derde.
Marc Pritzen, ‘n gewese Suid-Afrikaanse padfietskampioen en gebore Namibiër, se vertoningslys as ‘n veelsydige mededinger in groot byeenkomste is welbekend.
Finale inskrywings, elite mans 157 km: Marc Pritzen, Reinardt Janse van Rensburg, Wessel Botha, Daniel van der Walt, Jacob Charles van Dyk, Kyle Laing, Christiaan Klopper, Brian Brummer, Johan de Villiers, Kelton Miller, Francois Marais, Halalisani Ndebele (almal van Suid-Afrika); Joe Laverick (Brittanje), Fabio Andrade (Angola), Yuri Rodrigues (Angola), Rick Nobel (Nederland); Alex Miller, Martin Freyer, Jaques Hanekom, Adrian Key, Theuns van der Westhuizen, Xavier Papo, JG van der Westhuizen, Maruen Kleopas, Simon Kaita, Danzel de Koe, Marco Augustyn, Petrus Hanga, Nicolaas Swart, Simon Johannes (almal van Namibië).
Mans 19-34 jaar, 157 km: Drikus Coetzee, FC Mitchell, Marcel Henle, Lukas Mwetufa, Shikongo Ongeso, Brian Walkers, JP du Toit, Wayne Blaauw, Christo Engelbrecht, Hardus Nel, Darren Geoff Walkers, Boris Kulikowski, Howard Rukoro, JP de Klerk (almal van Namibië), Isaac Wilkinson (Brittanje), Jolan Rijmenams (België), Emmanuel Ighorae (Brittanje), Morne Gouws (RSA).
• Afgesien van die hoofkompetisie oor 157 km kon ryers ook vir die afstande 84 km of 44 km inskryf. Die twee korter afstande se begin- en eindstreep is by Gross Barmen.
‘n Paralimpiese kategorie (84 km) is ook vanjaar bygevoeg wat onder meer siggestremde inskrywings uit die buiteland gelok het.