Afrika-spele: Xander plaas land op medaljelys

Ghana 2024
Namibië se vrouekrieketspan het gister hul tweede groepwedstryd uit drie verloor.
Tielman Van Lill
Die swemmer Xander Skinner het Namibië Saterdagaand op die medaljelys geplaas by die Afrikaspele in Accra, Ghana.
Die 25-jarige Skinner, wat in die VSA studeer, het die silwermedalje in die 100 meter vryslag ingepalm. Jimmy Clayton van Suid-Afrika was die oortuigende wenner in die finaal (46.29 sekondes), met Skinner tweede in 49.29) en Egipte se Nasr Abdalla derde in 50.99.
Skinner, een van agt lede van die Namibiese swemspan, is ook vir die 50 en 200 vryslag, asook vir die 50 en 100 vlinderslag ingeskryf.
• Die Grieks-Romeinse stoeiers Romio Goliath (60 kg) en Benhard Shafaihuuna (77 kg) is beide in hul gevegte Saterdag oorskadu. Goliath het met 9-1 teen ’n Egiptenaar verloor, terwyl Shafaihuunamet 8-0 en 11-2 teen ’n Algeriër en ’n Tunisiër verloor het.
• Die karateka Keanu Stuurman en Suzelle Pronk het ook tot dusver net beperkte sukses in hul kata-kompetisies (stylvertoon) behaal.

FIETSRY
Die betreklik onervare jong Namibiese vrouespan het stewig meegeding in Saterdag se padfietsresies oor 100 kilometer (8 rondtes van 12.5 km) waarin Hayley Preen van Suid-Afrika die goue medalje verower het.
Aurelie Halbwachs (Mauritius) het breukdele van ’n sekonde later in die groep se jaagtog na die lyn haar eindpoging teen Ese Lovina Ukpeseraye van Nigerië naelskraaps gewen vir die silwer.
Anri Krugel Greeff was die eerste Namibiër oor die eindstreep in die elfde posisie, minder as ’n sekonde agter die wenner, met Jean-Marie Mostert 17de. Olivia Shililifa is 23ste geplaas, terwyl Monique du Plessis later klaargemaak het nadat sy twee keer geval en tyd verloor het.

VROUEKRIEKET
Namibië se Capricorn Eagles, het Donderdag hul eerste internasionale T20-wedstryd by die Afrika-spele teen Suid-Afrika se opkomende Proteas met een lopie gewen.
Die Duckworth-Lewis-Stern-metode het die beslissende sê gehad toe die Suid-Afrikaners tweede moes kolf. Reën het spel ná die eerste kolfbeurt vertraag en die Proteas moes 52 lopies in tien boulbeurte aanteken. Die aanvanklike teiken was 90, nadat Namibië 89/7 in 20 behaal het.
Die Proteas was gou in die knyp op 29 vir die verlies van vier toe die reën weer in die sewende boulbeurt uitgesak het. Volgens die DLS-somme was Suid-Afrika nie op koers voor die vereiste wenteiken nie.
Wilka Mwatile (37 van 41 balle, 4x4, 1x6) en Edelle van Zyl (19, 17 b, 1x4, 1x6) en Yasmeen Khan (17 van 29 b, 1x4) was Namibië se voorste kolwers.
Vir Namibië was Kayleen Green se drie paaltjies vir ses in twee boulbeurte deurslaggewend in die DLS-berekenings, terwyl Wilka 1/7 in twee bewerkstellig het.
• In Namibië se tweede T20i het Nigerië die Eagles met 55 lopies oorskadu toe hulle eerste gekolf het en 111/6 in 20 behaal het.
Namibië is vir 56 in 18.4 beurte uitgeboul. Khan (17 van 19 b, 2x4), Mekelaye Mwatile (9 van 14 b) en Didi Foerster (7 van 8 b, 1x4) het die meeste lopies geslaan.
Green het opnuut haar bydrae met 2/19 in 4 gelewer.
Vir Nigerië was Usen Peace (3/5 in 4), Peculiar Agboya (2/9 in 3.4) en Lillian Udeh (2/11 in 4) dodelik as boulers. Salome Sunday het 40 lopies bygedra (36 b, 5x4) om die kragmeting saam met 24 ekstras vir haar span te wen.
• Gister moes nog ’n nederlaag teen Tanzanië (107/9 in 18.4) afgesluk word nadat Namibië (103/8 in 20) nie genoeg lopies kon versamel nie.
Khan (48 van 45 b, 5x4, 1x6) is uit voor sy haar vyftigtal kon aanteken. Sy en Wilka Mwatile (33 van 43 b, 1x4, 1x6) het ’n broodnodige 75-vennootskap om die derde paaltjie geslaan. Ongelukkig is sy en Khan onderskeidelik ná 16.5 en 17.2 bb vir 95/4 uitgehaal, waarna die Eagles vier paaltjies in 16 aflewerings vir agt lopies verloor het.
Aanvangskolwer Saum Mtae met 41 van 30 b (2x4, 2x6) het vir Tanzanië ’n ankerrol gespeel. Tanzanië moes net teen 5.16 per boulbeurt kolf, maar Mtae het hul tempo tot 7.5 opgestoot. Ná haar vetrek was die lopievloei effens gerem.
Vir Namibië het Green (1/19 in 4), Wilka Mwatile (2/23 in 4), Saima Tuhadeleni (2/23 in 3.4), Arrasta Diergaardt (2/6 in 2)en Victoria Hamunyela (1/29 in 4) paaltjies geneem.
• Teen gister laatmiddag het Egipte (39 medaljes, 23 goud), Algerië (26 medaljes, vyf goud) en Suid-Afrika (13 medalje, vyf goud) die pas aangegee by die Afrikaspele, terwyl 17 lande reeds medaljes gewen het.
[email protected]