Aurelio Plato lei sewesspan na Mauritius
Namibië is hoopvol om in die komende Rugby Afrika Sewesreekstoernooi in Mauritius op 3 en 4 Oktober ‘n stewige eindposisie te behaal.
Afrigter Justin Nel en sy span vertrek vandag na Stellenbosch, waar hulle in ‘n oefenkamp hul voorbereiding van die afgelope weke verder sal verfyn.
Oefenwedstryde teen die Stellenbosch Akademie van Sport (SAS), die Westelike Provinsie en die Blitsbokke is gereël om die Namibiërs vir die komende kontinentale kompetisie voor te berei.
Op Donderdag 1 Oktober sal die groep na Mauritius vertrek, waar hulle bestem is om twee dae later hul groepwedstryde teen Kenia, Madagaskar en Reunion te speel. Die vier spanne in die ander groep is Suid-Afrika, Egipte, Mauritius en Burkina Faso.
Nel het gister aan die media gesê hy is tevrede met die spelersgroep se voorbereiding tot dusver, maar dat dit ewe belangrik sal wees om by die plaaslike omstandighede te kan aanpas.
“Ons het vroeg vanjaar met ‘n oefengroep begin en ook ‘n toernooi op Ceres in die Wes-Kaap gaan speel. In Junie het ons gedurende ‘n onderbreking in die NRU premierliga se wedstryde weer ‘n oefenkamp gehou het waar ‘n paar nuwe spelers ook betrokke geraak het.
“Ons toergroep bevat vier of vyf nuwelinge, met ons vorige kaptein (vir die toer na Ceres, die flank Thehard Lintvelt) wat ongelukkig vanweë ‘n knieoperasie uitgeskakel is.
“Vir die nuwelinge is dit ‘n geleentheid om in die seweskode hul hand op te steek en by ons stelsel in te skakel.”
Tydens die span se welwillendheidsbesoek aan die Namibiese Sportkommissie gister het die Namibië Rugbyunie se visepresident vir rugbysake, Johan Diergaardt, die Sportkommissie vir hul geldelike bystand bedank. Hy het ook die span aangemoedig om hul land en hul families trots te maak deur nie bloot deel te neem nie, maar waarlik te kompeteer.
Die ervare Aurelio Plato, losskakel of heelagter van FNB Kudus, is as die toerkaptein aangewys.
Sy spanmaats is Gino Wilson (Oranjemund-rugbyklub), Morgan Esterhuizen (FNB Western Suburbs), Lucio Isaacs (FNB Kudus), JD Nel (Montego United; onderkaptein), Schalk (SW) Kuhn (FNB Wanderers), Enrique Husselmann (Montego United), Aljarreau Zaahl (FNB Unam), Lasarus Joseph (FNB Unam), Irongwa Atshivudhi (Montego United), Aston Mukwiilongo (FNB Kudus), Kheeshan Beukes (FNB Unam).
Die kortlys van nie-reisende reserwes is Keynnan Basson (FNB Reho Falcon), Edward Mensah (FNB Western Suburbs) en Maughan Jarman (FNB Dolphin).
Die groep word ook deur spanbestuurder Bernice Dömanen die fisioterapeut Megon Sam vergesel.


