Aussie-kolwer plunder 129* teen Namibië op dag een

Krieket
Die botsing teen die houer van die wêreldtitel kan vir Gerrie Snyman en sy manne van waarde wees vorentoe.
Andrew Poolman

Die Namibiese 40-plus veteranekrieketspan het Sondag sy hande vol gehad in sy openingswedstryd by die Internasionale Meesterskrieket (IMC) Wêreldbekertoernooi in Guyana se hoofstad Georgetown.

Australië het met ‘n dominerende oorwinning met nege paaltjies gewys hoekom hy verlede jaar in Pakistan die debuut-Wêreldbekertoernooi vir die ouderdomsklas bo 40 jaar ingepalm het.

Namibië het so byna sy volle 45 boulbeurte gekolf voordat almal uit was vir ‘n oënskynlik skaflike 222 (44.3 bb) – maar die Aussie-kolwers het ander gedagtes gehad.

Glen Batticciotto het as aanvangskolwer sy gesag op die Namibiese boulers afgedwing met een van die voorste kolfbeurte wat nóg in ‘n 40-plus Wêreldbekertoernooi gesien is.

Die 45-jarige Batticciotto het 12 viere en elf sesse gemoker vir 129 nie uit nie, van net 46 balle. Hy het net 24 balle vir sy vyftigtal, en 39 balle vir sy honderdtal benodig.

Batticciotto, wat as jong speler vir Australië se o.19-span en later op provinsiale vlak vir Queensland gespeel het, se kragtige houe en tydsberekening het vir ‘n skouspel gesorg.

Die onoorwonne 190-vennootskap saam met sy kaptein Steve Paulsen (72 nie uit nie van 34 balle; 15 viere) het verseker dat Australië die wenteiken ná net 15.3 boulbeurte bereik het.

Batticciotto (kolftempo 280.43) en Paulsen het by vier geleenthede 20 lopies in ‘n boulbeurt geplunder.

Johan Geldenhuys, wie se eerste boulbeurt net vyf lopies gekos het, was die enigste Namibiese bouler wat met minder as tien per boulbeurt geëindig het (0/28 in 4; elf leë balle). Henry Hayes het die enigste paaltjie ingepalm (1/23 in 2).

 

VYFTIGTAL VIR SNYMAN

Vroeër het Namibië se kaptein Gerrie Snyman die loot gewen en het besluit om sy span eerste te laat kolf.

Janse Janse van Rensburg is vir 2 been-voor-paaltjie betrap en sy aanvangsvennoot John Valentine is op 14 (37 balle) uitgehardloop.

Die beste vennootskap van die Namibiese kolfbeurt het hierna gevolg, toe Snyman ‘n goeie vyftigtal behaal het (63 van 44 balle; 11 viere, twee sesse) en dadelik ‘n kolfvennoot in Nicky Buys (44 van 33 ball; 3x4 3x6) gevind het.

Hugo Ludik (13 van 37 balle), Colin Steytler (24 van 52 balle), Henry Hayes (26 van 23 balle2x4 1x6) en Johan Geldenhuys (26 van 16 balle; 2x4 2x6) het ook hul eerste kolfkans in die toernooi gekry, wat vir hulle algaande van waarde kan wees.

 

VOLGENDE

Die Namibiërs sou gister in hul tweede wedstryd teen Colombia gretig wees om dadelik die lesse uit die blootstelling teen Australië te begin toepas. Dié uitslag was teen druktyd nie bekend nie.

Namibië se ander groepwedstryde is teen Wes-Indië (Woensdag), Sri Lanka (Donderdag), Wallis (Saterdag 24 Oktober), Kanada (25 Oktober) en Suid-Afrika (27 Oktober).

Wedstryde word regstreeks op die YouTube-kanaal van 246Sports gebeeldsend, asook op NTV in Namibië en www.oneuptwo.com/

• Borge wat die Namibiese toer ondersteun, is Nature Travel Africa, Powerline Africa, die Namibiese Toerismeraad, Waldschmidt Eggs, Dulux Namibia, MR24, die Veteranekrieketvereniging van Namibië, Sport Wrap en Schoemans.

• Namibië was in Desember verlede jaar afwesig toe dié ouderdomsklas se eerste IMC Wêreldbekertoernooi in Pakistan met 12 spanne aangebied was, en maak dus vandeesweek sy debuut.