Bathfield en Martin oes eerste volpunte

Tydrenne
'n Harde eerste ronde van die nasionale tydrenkampioenskapsreeks is agter die rug met opwindende vertonings in beide klasse.
Tielman Van Lill
Die Steckel’s Toyota Swakop-tydren, eerste rondte van die Namibiese nasionale tydrenkampioenskap by die kus, is Saterdag onderskeidelik deur Loic Bathfield en Zachary Martin in die veldklas (CR1 en CR2) en sedan-afdeling (S1 tot S4) gewen.
Anders as wat aanvanklik geskeduleer was, is die kompetisie met een spesiale sneldeel van nege tot tien verleng en die totale afstand tot 101 kilometer. Uiteindelik het agt spanne vir die CR-klas ingeskryf en dieselfde aantal vir die sedankompetisie.
Die byeenkoms was opnuut fantasties deur die plaaslike tydrengeesdriftiges ondersteun en besoekers van die binneland was goed verteenwoordig.
CR1- EN CR2-KLASSE
Daar was geen keer aan Bathfield en sy navigator, Johan Steyn, op pad na die vinnigste tyd vir die byeenkoms nie. Bathfield het sy blitsige African Gas 2x4-Century Racing CR6 V8 meesterlik hanteer en die 101 km in 54 minute 09 sekondes afgelê. Hy het elk van die tien sneldele gewen.
Jandré Dippenaar en Gielie Visser was tweede in die doelgeboude PZN Panelbeaters 4x4-Toyota Hilus V8, met 1 uur 1 minuut en 12 sekondes op die stophorlosie. Dippenaar het tydens sneldeel nege bykans vier minute verloor en sou dus aansienlik vinniger gewees het.
Ekko Eisenberg en Rassie Rietz verbeter met elke tydren. Eisenberg het Saterdag sy Pupkewitz Motorsport 2x4-JAC-bakkie V8 met mening deur die draaie gegooi vir sy derde plek met 1:07:35.
Weens oorverhitting van die kragtige Mr Detail 2x4-Toyota Hilux V8 se hoogoond, was Ewald en Hein Bisschoff later genoodsaak om stadiger te jaag. As die Bisschoffs eers die agtsilinders se geite onder beheer het, sal die manne weer volspoed hul stempel kan afdruk.
Natuurlik het die tydren sy gebruiklike aantal slagoffers geëis. Willie Schoeman en Chané Havenga, asook Paul Ackerman en Werner Kauert kon nie die baberpen in die CR-klas vermy nie. As jy eers in ‘n baberpen getrap het, is jou tyd vir pret iets van die verlede en net so wanneer jou voertuig jou in die steek laat.
Schoeman (2x4-Toyota Hilux GD6) kon nie verder as sneldeel 2 vorder nie, terwyl Ackerman (2x4-Sandmaster) ná sneldeel 3 moes halt roep.
In die sedankompetisie was Pieter Greeff en JP Robinson (S1-Toyota Corolla) asook George en Jannie Coetzee (S1-Ford Focus) die eerste slagoffers. Widow Bartsch en Raymond Fourie (S2-VW Polo) het tot sneldeel 5 gevorder voor hulle moes onttrek. Dewet en Lara du Plessis (S1-Toyota Corolla) kon wel die tydren onder die Super Rally-reëls voltooi.
SEDANKLAS
Zachary Martin en Anique Schoeman (J&P Hydraulics 2x4-VW Polo) het die S2-afdeling oorheers en ook die tydren in 1:03:01 voltooi. Hulle word deur Gert Coetzee en Elmarie Barnard (2x4-VW Golf) in 1:10:07 gevolg met Peer Röhm en Pieter Steyn (Gunite Pools 2x4-Ford Escort MK2) derde in 1:10:09. Röhm is met mening terug en die Escort loop puik.
Algeheel (CR- en S-klas): 1 Bathfield/Steyn (54:09), 2 Dippenaar/Visser (1:01:12), 3 Martin/Schoeman (1:03:01).
CR-AFDELING
Algeheel: 1 Bathfield/Steyn, 2 Dippenaar/Visser, 3 Eisenberg/Rietz (1:07:35).
CR2: 1 Bathfield/Steyn, 2 Dippenaar/Visser, 3 Werner Bartsch/Christel Fourie (1:10:50).
CR1: 1 Eisenberg/Rietz, 2 Ewald Bisschoff/Hein Bisschoff (1:10:45), 3 Madeleiene Koegelenberg en Tivian von Weidts (1:23:51).
S-AFDELING
Algeheel: 1 Martin/Schoeman (1:03:01), 2 Coetzee/Barnard (1:10:07), 3 Röhm/Steyn (1:10:09).
S2-klas: 1 Martin/Schoeman, 2 Coetzee/Barnard, 3 Röhm/Steyn.
S1-klas: 1 Gerhard Visser/Geraldine Swart (1:39:41).
Die Swakop-tydren is deur Steckel’s Toyota, Gunite Pools, Hardap Freight Services, J&P Hydraulics, Safewear Namibia, sealconsultingengineers en Sky-Way Fuels ondersteun.
[email protected]