Bergroetes van Andorra Epic lewer silwer vir Vera en Danielle

Bergfietsry
Die ietwat haastig saamgestelde span van Vera Looser (Namibië) en Danielle du Toit (Suid-Afrika) het hul stem dik gemaak by laas naweek se Andorra Epic, die vierdaagse bergfietstoer deur die bergagtige Europese land.
Looser het eers in ‘n laat stadium vir Du Toit as haar spanmaat bevestig gekry vir die toer van altesame 203 kilometer, met 6500 meter se klimwerk en afdraande van 7800 meter wat Sondag ten einde geloop het.
Die twee Afrikane (Team Efficient Safari Essence) was die vernaamste uitdagers vir die gunstelinge en uiteindelike wenspan, Rosa van Doorn (Nederland) en Janina Wüst (Switserland) wat Team Buff Megano verteenwoordig het.
Nietemin het Looser en Du Toit die eerste skof (43 km / klimwerk 1625 meter / afdraande 1625 meter) met ‘n tydverskil van drie minute 42 sekondes gewen en het dus die oranje voorlopertrui vir die tweede skof gedra.
Een van die redelik unieke eienskappe van die derde skof was dat die ryers met ‘n kabelkarretjie moes ry na die wegspringstreep.
Looser het op sosiale media laat blyk dit was ‘n uitdagende, maar genotvolle week by die Andorra Epic en dat sy Du Toit se geselskap deurgaans geniet het danksy die “wonderwerk” om die laat inskrywing af te handel.
“Sondag het Danielle nie eens geweet dat sy twee dae later hier sou wees nie, wat nog te sê om vir die eerste keer in die voorlopertrui van die Andorra Epic te ry!
"Ons het op die eerste lang afdraand weggebreek en die eerste skof gewen.
“Hoewel die tweede skof se roete meer afdraande as opdraand bevat het, was dit steeds ‘n lang dag op die fiets. Enige resies in die dun lug op ‘n hoogte meer as 2000 meter bo seespieël is net iets anders. Die derde skof was weer eindelose opdraande en steil afdraande, maar die natuurskone roete en bergfietspaadjies het vergoed vir die pyn van die klimme.
“Hoewel ons die voorloperstruie aan die sterk Buff Megano-span moes afstaan, was ons vasberade om tot by die eindstreep so hard as moontlik te veg.”
Van Doorn en Wüst se wentyd ná vier skofte was 11 ure 45 minute 15 sekondes. Hul voorsprong bo Looser en Du Toit was 21 minute 35 sekondes, terwyl die derde span Antonia Dauberman (Duitsland) en Naama Noyman (Israel) in 12 ure 25 minute klaargemaak het.

Volgende Wêreldbeker
Looser se volgende uitdaging is reeds komende Sondag, wanneer sy by die Black Forest Ultra Bike Marathon in Duitsland vir die volgende UCI Hero Wêreldbeker-marathonbyeenkoms sal aantree. Die Namibiër het verlede jaar se Wêreldbekerreeks gewen, maar het sover vanjaar redelik opdraand gekry. Met 400 punte is sy tans vyfde ná Debora Piana (Italië, 440), lejla Njemcevic (Bosnia, 450), Mairhofer (Italië, 590) en Rosa van Doorn (Nederland, 610).

Nog Namibiërs in Andorra
Julika Pahl het haar onlangse sterk vertonings in Epic-bergfietstoere voortgesit met die goue medalje in die vroue ope-kategorie saam met Linda Detering van Suid-Afrika.
In April vanjaar het Pahl, wat in Switserland gebaseer is, en Detering ook by die Absa Cape Epic uitgeblink deur die silwermedalje te beklink. Twee jaar tevore het hulle ook ‘n triomf in hul kategorie in die Swiss Epic gevier.
Ná die Andorra Epic se vier dae was Pahl en Detering (Team Royally Exhausted) in 13 ure 02 minute 59 sekondes oor die eindstreep. Hulle het die eerste drie skofte gewen en vierde in die laaste skof klaargemaak. Hul naaste opposisie was ‘n Switserse paar, Yvonne Walter ten Sara Baumann, sowat 28 minute later.
• Axel Theissen, gewese president van die Namibiese Fietsryfederasie en sy spanmaat Stefan van Doorn was een van die veertig spanne wat die grootmeestersmansklas suksesvol voltooi het. Die twee Windhoekers het in 20 ure 35 minute met die volle afstand klaargespeel.