Bok-afrigter help Cheetahs staal vir Franse monsterstut

Rugby
Johann de Jager
Die Cheetahs kon Daan Human se kennis inspan oor die monsterstut Rabah Slimani, wat die naweek in Frankryk op hulle wag wanneer hulle Clermont in die ronde van 16 in die Europese Uitdaagbekerreeks pak.
Human, skrumghoeroe van die Springbokke, het die Cheetahs verlede week ’n paar truuks kom wys asook wat om te verwag van die groot vaskopstut wat voorheen vir die Hane gespeel het.
Human (47) het in sy speeldae vir Toulouse, toe Slimani (34) nog vir Stade Français gespeel het, die eerste keer met hom te doen gekry.
Slimani, ’n bielie van bykans 120 kg, het 187 wedstryde vir Stade Français gespeel voor hy hom in 2017 by Clermont aangesluit het. Die laaste van sy 57 toetse vir Frankryk was teen Wallis in 2019 se Wêreldbekertoernooi in Japan.
Hy het Saterdag in Parys teen die Bok Trevor Nyakane geskrum in Clermont se Top 14-wedstryd teen Racing 92 wat die tuisspan met 26-10 gewen het. Slimani was 49 minute op die veld.
Die Cheetahs sal intussen Dinsdag sonder hul haker Marnus van der Merwe na Frankryk vertrek.
Hy het Saterdag in die SA Beker-stryd teen die Luiperds in Potchefstroom ’n graad 2-skeur in sy kuit opgedoen. Dit het vroeg in die tweede helfte gebeur toe hy ’n goeie lopie gehad het.
Die Namibiër Louis van der Westhuizen sal Van der Merwe in die beginspan vervang, terwyl Marko Janse van Rensburg as plaasvervanger-haker betrek kan word.
Janse van Rensburg het in verlede jaar se wedstryd in die ronde van 16 teen Toulon die eerste van die Cheetahs se drie drieë gedruk.
Toulon het die Cheetahs se opmars gestuit deur hulle met 36-21 uit te skakel.
Die Cheetahs het hulself ten doel gestel om vanjaar ’n tree verder in die Europese Uitdaagbekerreeks te vorder en die kwarteindronde te haal.
Die Cheetahs se toergroep word ná Dinsdagoggend se oefensessie bekendgemaak.

KLOP LUIPERDS
Die Cheetahs het Saterdag 12 drieë in ’n wegholsege van 76-5 teen die Luiperds in die spanne se SA Beker-reekswedstryd in Potchefstroom gedruk.
Die wenspan het met rustyd reeds met 52-0 voorgeloop, waarna ’n paar spelers van die veld gehaal is. Dit is met die oog op die komende naweek se wedstryd in Frankryk teen Clermont in die ronde van 16 in die Europese Uitdaagbeker-reeks.
Die lostrio – Andisa Ntsila (2), Gideon van der Merwe (2) Oupa Mohoje (2) – het elk twee drieë gedruk.
Ntsila het in die tweede helfte ’n geel kaart gekry.
Munier Hartzenberg het in sy eerste wedstryd op senter ook twee keer gedruk, terwyl die Bok-vleuel S’bu Nkosi ook twee keer afgerond het.
Izak van Westhuizen, afrigter, sê Nkosi was baie goed en dis jammer dat hulle hom nie kan saamneem na Frankryk nie. “Hy was nog nie by ons toe ons die groep vir die Europese Uitdaagbeker-reeks geregistreer het nie.”
Die Cheetahs-toerspan vertrek Dinsdag na Frankryk. Hul “naasbestes” speel Vrydag in Bloemfontein in die SA Beker-reeks gasheer vir die onoorwonne Pumas.
– Netwerk24