Brawe ryers takel die berge

Enduro
Die enduro-motorfietskampioenskap is ná drie byeenkomste volspoed aan die gang.
Tielman Van Lill
Die Namibiese Enduro-klub het Saterdag die derde ronde van sy nasionale kampioenskapsreeks in die koppies oos van Eros aangebied, waar 31 deelnemers sake in ses klasse uitgespook het.
Quinton van Rooyen, Jörn Greiter, Rico Steinfurth, Kilian Ham, Max Heigan en Maike Bochert het hul onderskeie klasse ingepalm.
Ná drie seges in drie rondes is Van Rooyen met 60 kampioenskappunte reeds los voor in die ope pro-afdeling. Hy is die afgelope paar jaar onstuitbaar as nasionale kampioen.
Die mededinging agter hom tussen Stuart Pearce, Corné Visser en Oliver Rorhmüller is ongenaakbaar. Al drie was ná twee byeenkomste op 30 punte elk. Rohrmüller het egter Saterdag die tweede plek behaal om Pearce en Visser op die punteleer verby te steek. Pearce het twee kontrolepunte op die roete gemis en is gevolglik gestraf. Visser (derde) en Pearce (vierde) sal tydens die vierde ronde sake wil regstel.
Die kompetisie was ewe brutaal in die senior pro-afdeling tussen Greiter, Heiko Stranghöner en Gunther Gladis.
Stranghöner het die eerste en tweede byeenkomste by Iitumba en Lichtenstein gewen, maar moes Saterdag met ‘n tweede plek tevrede wees. Greiter was dié slag puik op dreef om 20 kampioenskappunte op te raap. Gladis het opnuut die derde posisie behaal en lê tans derde op die punteleer.
Die punteverskil tussen Stranghöner (57) en Greiter (54) is bitter min, terwyl Gladis ook nog met ‘n verrassing of twee vorendag kan kom.

Voorste uitslae:
Ope pro (3 rondtes): 1 Quinton van Rooyen (3 ure 26 minute 23 sekondes), 2 Oliver Rohrmüller (4:00:42), 3 Corné Visser (4:01:18), 4 Stuart Pearce (4:44:38).
Senior pro (2 rondtes): 1 Jörn Greiter (2:43:01), 2 Heiko Stranghöner (2:48:17), 3 Gunther Gladis (2:58:37), 4 Kai Hennes (4:07:14), 5 Briaan Kibble (4:23:01).
Intermidiêr (4 rondtes): 1 Rico Steinfurth (2:05:59), 2 Brandon Juling (2:08:23), 3 André Barnard (2:10:33), 4 Frederick van Graan (2:16:14).
Groentjies (10 rondtes): 1 Kilian Ham (2:04:31), 2 Zoe Waldschmidt (2:10:02), 3 Antonio Monteitro (2:16:50).
Beginners (5 rondtes): 1 Max Heigan (1:31:44), 2 Cody Heigan (1:48:51).
Ontwikkelingsklas (5 rondtes): 1 Maike Bochert (1:48:32).
Die Enduro-kampioenskapsreeks word deur die borge Crisis Emergency Services, Hemco Paints, Nahara Africa Tours & Safaris, Omaruru SPAR, Safari Engineering, SocialFly Creative Agency, Sonja Becker Real Estate, Terrain Tamer en Venture Enterprise ondersteun.