Broederstryd op Gooi Kole bespreek

Hokkie
Andrew Poolman
Op die hokkiebaan by MTC The Dome in Swakopmund is geen genade gegee of gevra in Sondagaand se hewig betwiste manseindstryd van die Binnenshuise Afrikabekertoernooi nie.
Die normale speeltyd ná vier kwarte het op 3-3 geëindig, voordat DJ Strauss en sy Namibiese span dit reggekry het om die strafhoue teen Suid-Afrika met 4-3 te beklink.
Beide Suid-Afrika en Namibië se mans- en vrouespanne het nogtans deurgedring om die vasteland volgende jaar by die Binnenshuise Wêreldbeker in Kroasië te verteenwoordig.
Dit was die eerste keer in die geskiedenis dat die Namibiese mans hul buurland in ‘n kwalifiserende WB-veldtog kon klop, hoewel Strauss-hulle by die vorige WB-toernooi gewys het hulle hoort in die groot geselskap toe hulle die kwarteindronde gehaal het.
In Vrydagmiddag se episode van ons Afrikaanse braai- en sportgeselsprogram Gooi Kole was ons gaste die Suid-Afrikaanse manshokkiespan se kaptein Jethro Eustice en die afrigter Justin Rosenberg.
Rosenberg en Eustice het benadruk dat ondanks die onderlinge mededinging, beskou hulle dit as ‘n wonderlike geleentheid vir die vasteland se twee nasies om by die Wêreldbeker hul vernuf te wys.
Eustice, wat met sy gesin na Australië geëmigreer het, vertel ons ook van sy nuwe lewe Doer Onder en hoe ‘n braai daar aangepak word.
Zimbabwe se manskaptein en hulpafrigter, Kudzanai Tembo en Eddie Chiringah, was ook gaste vir die episode en vertel ons veldhokkie meer prioriteit in die buurland geniet, maar dat hulle graag by die twee grotes leer en aanpassings maak om te verbeter.
• Kyk Vrydag se episode by https://q.my.na/WT8K