Chucky word kaptein vir WB-repechage

Rugby
Andrew Poolman
Die haker Louis “Chucky” van der Westhuizen is as die kaptein bevestig vir Namibië se eerste deelname in die geskiedenis aan die 2027 Wêreldbekerrugbytoernooi se repechage (finale kwalifiserende toernooi) in Dubai.
Van der Westhuizen (30), wat ook die Vrystaat-Cheetahs aanvoer, neem die rol by die flank Prince !Gaoseb.
Die haker wat in November 2013 sy toetsdebuut as ‘n WHS-matriekseun gemaak en sedertdien in 40 toetse gespeel het, is een van enkele veterane wat in die laaste drie Wêreldbekers gespeel het (ook Aranos Coetzee, Torsten van Jaarsveld, Wian Conradie, Johan Deysel en JC Greyling).
!Gaoseb en die senter Danco Burger was onderskeidelik die kapteins vir die 2025 en 2024 Rugby Afrika-bekertoernooie, waarin Namibië beide kere in die finaal teen Zimbabwe verloor het.
Die uitslag teen Zimbabwe in Julie vanjaar in Uganda se hoofstad Kampala het vir laasgenoemde sy eerste kwalifisering vir ‘n Wêreldbeker in meer as drie dekades beteken deurdat hy die kontinent se enigste regstreekse WB-posisie ingepalm het.
In teenstelling hiermee moet Namibië (wat in elke Wêreldbeker vanaf 1999 tot 2023 gespeel het) nou vir die eerste keer ooit by die beste verloorspanne van ander vastelande en wêreldstreke verbykom indien hy sy plek in die vergrote WB-toernooi van 24 lande in Australië 2027 wil inneem.
Van der Westhuizen en sy manne se wedstrydbepalings in Dubai is komende Saterdag teen België (17:30), teen Samoa vyf dae later en teen Brasilië op 18 November.
Samoa (16de op die wêreldranglys) is die volslae gunsteling wat sedert 1991 nog geen van die laaste nege Wêreldbekertoernooie misgeloop het nie, met verskynings in twee kwarteindstryde (1991 en 1995) as hoogtepunte.
Namibië, wat die afgelope tyd tot 27ste op die ranglys gedaal het, was by sewe WB-toernooie op ‘n streep, terwyl België (22ste) en Brasilië (32ste) nog nooit die voorreg van WB-deelname kon smaak nie.
Verrassend genoeg kon Samoa nog geen toets in meer as 12 maande wen nie. Die uitgetrede losskakel Tusi Pisi se aanstelling in April vanjaar as hoofafrigter het met ‘n rampspoedige kwalifiserende veldtog gepaard gegaan, waarin hul beste uitslag ‘n 32-32 gelykopuitslag teen Chili was.
Namibië se direkteur van rugby, Jacques Burger, het in ‘n media-onderhoud nie doekies omgedraai nie en erken dat elk van die drie kragmetings besonder taai gaan wees.
“Om te kwalifiseer, sal drie spesiale vertonings verg. Ons sal gereed moet wees en sal in geen stadium in enige wedstryd kan afskakel nie en hopelik sal die uitslag in ons guns wees.
“Brasilië en België kan die voordeel van beter samehorigheid hê omdat hulle spelersgroep meer tyd saam kan deurbring. Ons het net enkele weke bymekaar met van ons beste spelers wat buite die land rugby speel.
“Dit sal ‘n kwessie wees van aanpas by die omstandighede. Spelers sal hul hand moet opsteek en die geleentheid aangryp wanneer vertroue in hulle gewys word.
“Ons sal ons beste drie wedstryde ooit moet speel. As ons dit regkry, sal ons ‘n kans hê.”
Namibië het nog nie tevore ‘n rugbytoets teen België se Zwarte Duivels óf teen Brasilië gespeel nie.
Teen Samoa het Namibië beide sy vorige ontmoetings verloor – in 2003 op hul toer in Windhoek met 13-40; asook by die 2011 Wêreldbeker in Nieu-Seeland (12-49).