Davin slaan Afghanistan raak met vyftigt

Krieket
Met Afghanistan tiende en Namibië 14de op die wêreldranglys in T20-krieket sou min waarnemers die uitslag verwag het.
Tielman Van Lill
Namibië se Richelieu Eagles het Woensdagaand van hulle laat kennis neem deur ‘n nie-amptelike oefenwedstryd teen Afghanistan met nege paaltjies volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode (DLS) te wen.
Met die twee lande se onderskeie posisies op die wêreldranglys van internasionale T20-krieket (Afghanistan tiende, Namibië 14de) sou die wedsyfers vooraf beswaarlik in die Eagles se guns gewees het.
Aanvangskolwer Niko Davin het sy aandele laat styg met ‘n aanvallende vyftigtal in die aanloop tot die snel naderende ICC T20 Wreldbeker wat vir die Eagles op 2 Junie teen Oman in Barbados begin.
Woensdagaand se wedstryd in die Warner Park-stadion in Saint Kitts moes weens reën van twintig tot 16 boulbeurte per span verkort word.
Hoewel die DLS-metode ingespan is, het Namibië die uitstappie goed benut en bes moontlik sou die DLS-metode nie eens nodig gewees het om die Eagles tot ‘n oorwinning aan te help nie.
Die Afghane moes noodgedwonge eerste gaan kolf nadat Gerhard Erasmus die val van die munt reg voorspel het. Hulle kon net 116 lopies vir die verlies van sewe paaltjies in hul beskikbare boulbeurte behaal.
Namibië het sy wentelling in 12.6 boulbeurte met 120 vir die verlies van ‘n enkele paaltjie verseker.
Die Eagles se staatmaker linkerarm-draaibouler Bernard Scholtz het twee paaltjies vir 15 in drie boulbeurte geneem, terwyl Ben Shikongo een vir 26 in drie, Jan Frylinck 1/20 in twee en Ruben Trumpelmann met 1/29 in drie bygedra het.
Hoewel Tangeni Lungameni nie ‘n paaltjie laat val het nie, was sy 23 lopies wat hy in vier boulbeurte afgestaan naas Scholtz se ekonomie teen 5.75 per boulbeurt die goedkoopste van die boulers.
Michael van Lingen het as aanvangskolwer 36 van 30 aflewerings behaal. Sy kolfbeurt het vier grenshoue en een ses bevat.
Sy kolfmaat Niko Davin het behoorlik baljaar en 65 onoorwonne lopies van 35 aflewerings vir vyf grenshoue en vyf sesse op die telkaart gesorg.
Met Van Lingen se vertrek op 84/1 ná 9.2 bb was die Eagles reeds stewig in die saal. Jan Frylinck het ingestap en 16 nie uit nie van twaalf aflewerings geslaan. Hy het een vier en een ses na die grenstou gestuur.
Gisteraand (Donderdag) en Vrydag het die Namibiërs nog twee nie-amptelike oefenwedstryde teen onderskeidelik Papoea-Nieu-Guinee en Afghanistan – beide spanne teen wie hulle vandeesweek reeds oorwinnings behaal het.
Hul amptelike opwarmwedstryde in die aanloop tot die T20-Wêreldbeker is volgende week teen Uganda, Australië en weer teen PNG.
[email protected]