Details opwindend vir ICC WB-aanbieding in Windhoek

Krieket
Verskeie maak-of-breek internasionale wedstryde sal volgende jaar by die FNB Namibië-krieketstadion afspeel – insluitend die openingswedstryd.
Andrew Poolman

Die krieketspanne van Engeland, Sri Lanka en Bangladesj sal in Windhoek gebaseer wees vir hul groepwedstryde by volgende jaar se ICC Wêreldbeker in die eendagformaat, waarvan Namibië, Suid-Afrika en Zimbabwe as mede-gasheerlande sal optree.

Twaalf maande voor die afskop van die toernooi is die wedstrydprogram vir die 2027 Wêreldbeker net voor die naweek by ‘n spoggeleentheid in Kaapstad aangekondig.

Johan Müller, uitvoerende hoof van Krieket Namibië, het by die geleentheid in Kaapstad gesê die land is opgewonde om Sri Lanka, Engeland en Bangladesj by die FNB Namibië-krieketstadion tydens die 2027 ICC Wêreldbeker vir mans te ontvang.

“Vir ons om die eerste paar Superliga-wedstryde aan te bied wat lei tot die amptelike Wêreldbeker – dis werklik skouspelagtig om dit hier in die land te hê. Die waarde van so ’n groot geleentheid is geweldig.

“Ons begin met die Superliga-wedstryde; dis die laaste rondte kwalifiserende wedstryde waartydens die spanne vir die groepe van die amptelike Wêreldbeker gefinaliseer word. Dit behels drie wedstryde, met spanne van hoë gehalte wat daaraan sal deelneem.

“Daarna bied ons drie amptelike Wêreldbeker-wedstryde aan, waarvan Engeland en Sri Lanka in twee sal speel. Ons weet almal watter soort ondersteunersbasis daardie twee lande het, asook die atmosfeer en kultuur wat hulle na die toeskouers bring.

“Dis iets besonders om die Barmy Army in jou land te hê, en die toerismesektor sal werklik bevoorreg wees om hulle hier te verwelkom. Dit sal iets unieks vir ons land wees.”

 

UITDUNWEDSTRYDE

Suid-Afrika en Namibië sal vooraf gesamentlik as gashere vir die Wêreldbeker-kwalifiseringstoernooi optree.

Dié Wêreldbeker-uitdun is geskeduleer vir die tydperk tussen 26 Februarie en 21 Maart 2027. Die toernooi vir tien spanne – wat die Wes-Indiese Eilande insluit – sal plaasvind in die tydperk tussen die SA20 en die IPL; dié skedulering behoort te verseker dat die Windies hul beste spelers beskikbaar het.

Ierland is die ander volwaardige ICC-lidland wat aan die kwalifiseringswedstryde sal deelneem, gebaseer op die ICC se ODI-ranglys soos op 30 September.

 

ONGEKEURDE SPANNE

Suid-Afrika en Zimbabwe het as gesamentlike gashere outomatiese kwalifikasie vir die Wêreldbeker ontvang, tesame met die volgende agt spanne op die ranglys. Dit sluit in Indië, Nieu-Seeland, Pakistan, Australië, Engeland, Sri Lanka, Afghanistan en Bangladesj.

Die oorblywende vier spanne sal deur middel van die kwalifiseringstoernooi vir tien spanne bepaal word; die wenner dring direk deur na die groepfase van die Wêreldbeker, terwyl die oorblywende drie spanne ’n "Superreeks" van drie wedstryde sal speel om die toernooi af te skop. Die wenner van diá Superreeks, wat in Namibië gespeel sal word, sal dan tot die hoofkompetisie deurdring.

Die deelnemers aan die kwalifiserende toernooi sal ook die topvier-spanne van die Wêreldbeker Liga Twee-reeks (WCL 2) insluit – tans Skotland, die VSA, Nederland en Oman – asook vier ander spanne wat deur ’n uitspeelrondte vir die Wêreldbeker-kwalifisering vorder. Hierdie uitspeelrondte vind van 1 tot 22 Desember op ’n plek wat nog nie bekendgemaak is nie.

Die uitspeeltoernooi sal die onderste vier spanne van WCL 2 – tans Namibië, Kanada, Nepal en die Verenigde Arabiese Emirate – en die topvier-spanne van die Challenge-liga insluit. Soos sake nou staan, is dit Italië, Uganda, Jersey en Koeweit.

Namibië, as mede-aanbieder van die 2027 WB-toernooi, kan steeds vir die kwalifiserende toernooi kwalifiseer sonder om deur die uitspeelrondte te gaan. Om dit te doen, moet hulle in die komende week die VSA en die Emirate in twee wedstryde elk in Dallas klop – wat afgelope Saterdag begin het – en daarop staatmaak dat die uitslae van wedstryde tussen Oman, Nepal en Kanada in hul guns uitwerk.