Diamantliga bied voorskou op Olimpiese Spele

Atletiek
Die eindbyeenkoms is 'n wenner-vat-alles-kompetisie in elke item.
Tielman Van Lill
Die eerste twee byeenkomste van Wêreldatletiek se aansienryke elite Diamantligreeks is onderskeidelik op 20 en 27 April in die Chinese stede Xiamen en Suzhou aangebied.
Slegs die room van die wêreld se baan- en veldatlete word vir die Diamantliga se byeenkomste genooi. Die naasbeste vlak is Wêreldatletiek se Kontinentale Goue Toer-reeks, wat vanjaar sy vyfde seisoen bereik.
Met 2024 as ‘n Olimpiese jaar in die opbou na die Spele in Parys, sal atlete sorgvuldig beplan om op die regte tye hul beste moontlike peil te kan uitstal.
Hoe werk die Diamantliga-reeks vir 2024?
Atlete sal van April tot September by 14 reeksbyeenkomste om punte meeding. Die punte word op 'n skaal toegeken, van agt punte vir die eerste plek tot een vir die agtste plek.
Ná die 14de byeenkoms in Zürich kwalifiseer die topses atlete in die velditems, die top-agt van 100 tot 800 meter in baanitems, en die top tien in die afstande van 1500 m tot 5 000 meter vir die eindbyeenkoms.
Namibië se Christine Mboma was in 2021 die 200-Diamantligakampioen toe sy Shericka Jackson (21.81) van Jamaika met 21.78 in die finale wedloop in Zürich, Switserland, geklop het.
Die eindstryd is 'n wenner-vat-alles-kompetisie om as die Diamantliga-kampioen in die onderskeie dissiplines bekroon te word.
Atlete kan in die 100, 200, 400, 800, 1 500, 3 000-hindernis, 5 000, 100-hekkies (vroue), 110-hekkies (mans), 400-hekkies, hoogspring, paalspring, verspring, driesprong, gewigstoot, diskusgooi en spiesgooi hul merk maak.
Prysgeld word by elke byeenkoms van die eerste tot agtste posisie aan atlete uitbetaal – wenner US$10 000, tweede US$6 000, derde US$3 500, 4 US$2 000, vyfde US$1 250, sesde US$1 000, sewende US$750, agtste US$500.
Die Diamantliga-finaal se kampioene stap met veel meer weg bank toe, maar die res van die veld word nie met leë hande gelaat nie – kampioen US$30 000, tweede US$12 000, derde US$7 000, vierde US$4 000, vyfde US$2 500, 6 US$2 000, sewende US$1 500, agtste US$1 000.

Die 2024 Diamantliga-kalender
10 Mei – Doha, Katar.
19 Mei – Marrakesj, Marokko.
25 Mei – Eugene, VSA.
30 Mei – Oslo, Noorweë.
2 Junie – Stockholm, Swede.
7 Julie – Parys, Frankryk.
12 Julie – Monaco.
20 Julie – Londen, Engeland.
22 Augustus – Lausanne, Switserland.
25 Augustus – Silesië, Pole.
30 Augustus – Rome, Italië.
5 September – Zürich, Switserland.
Finaal 13 en 14 September – Brussel, België.
[email protected]