Die Rhino wink vir Drikus
Namibië se Drikus “Die Masjien” Coetzee sal in Oktober ’n epiese bergfietstoer van 3 050 kilometer (km) vanaf Windhoek na Graaff-Reinet in Suid-Afrika aandurf.
Drikus, wat reeds internasionaal bekendheid vir sy uithouvermoë op ’n bergfiets verwerf het, sê die Rhino Run gaan die grootste toets van sy loopbaan tot dusver wees. Hy hou verskeie rekords in die Munga in Suid-Afrika, asook hier in Namibië. Hy het onlangs ook ’n bergfietsren van 2 000 km in Suid-Afrika in ’n verstommende rekordtyd gewen.
Drikus vertel: “Met die Rhino Run is jy totaal en al aan jou eie genade en die natuur se elemente uitgelewer. Jy het geen ondersteuning van die organiseerders nie en ook nie ’n span met ’n voertuig wat jou kan volg en help as probleme opduik nie.
“Jy moet kos en water koop wanneer jy deur dorpe kom. Meganiese probleme en pap bande moet jy self herstel. Om langs die pad kamp op te slaan, is deel van dié ultra-uitdaging.
“Ons spring op 12 Oktober hier in Windhoek weg en ry wes na Solitaire, waar ons suid draai. Die roete loop deur die Namib, verby Betta na Aus, waarna ons na die Oranjerivier en Aussenkehr ry. By Noordoewer gaan ons oor die grens. Dit gaan ’n monster wees.”
Wat is die Rhino Run?
Volgens die organiseerders is dit “’n meeslepende fietsry-ervaring wat deur van Suider-Afrika se mees unieke landskappe gaan. Vir die 2026-uitgawe het ons die roete verander en omgedraai. Die uitdaging begin in Windhoek en kruis droë woestyne, wynlande en welige woude voordat dit 3 050 km later in Graaff-Reinet eindig.
As dit ’n bietjie skrikwekkend klink, kan jy die woestyngedeelte oorslaan en die korter weergawe aanpak, of by die Touring Rhinos aansluit vir ’n begeleide ervaring.
“Stel jy belang in wat ’n lewensveranderende ervaring beloof om te wees? Inskrywings vir die Rhino Run is nou oop. Moenie huiwer nie, want ons het beperkte plekke beskikbaar.”
Die Rhino Run se geskiedenis
Die Rhino Run is die breinkind van Ryan “Rhino” Flinn, wat besluit het Afrika verdien sy eie ultra-uithouvermoë-fietsrywedren. Rhino wou die ontsaglike skoonheid en unieke landskappe van sy kinderjare op sy eie manier aan deelnemers bekendstel.
Die Rhino Run is gebore as ’n nie-ondersteunde fietsry-ervaring. Geen nonsens nie - net jy, jou fiets en die pad voor jou.
Na jare se harde werk, verkenning en voorbereiding was die span gereed om die eerste uitgawe in Oktober 2020 aan te bied. Maar toe slaan die Covid-19-pandemie toe en die wedren is met twee jaar vertraag.
Toe reisbeperkings in 2022 opgehef is, het ’n sterbelaaide deelnemersveld in Plettenbergbaai byeengekom. Die eindpunt was Windhoek en oor die volgende 2 750 km het een van die opwindendste ultra-uithouvermoë-wedrenne van alle tye ontvou. Abdullah Zeinab van Australië het die eerste uitgawe met minder as ’n uur gewen.
’n Mediaspan het die eerste uitgawe gevolg en een van die mees mededingende ultra-uithouvermoë-fietsrywedrenne nóg gedokumenteer.
In 2023 het die wedren teruggekeer met dieselfde roete na Windhoek. Nadat hy in 2022 tweede geëindig het, het Kevin Benkenstein teruggekeer met die doel om beter te vaar. Benkenstein het die wedren uiteindelik in ’n rekordtyd gewen.
“As gevolg van ’n aantal faktore is die wedren ongelukkig nie in 2024 of 2025 aangebied nie. Vanjaar keer die wedren egter terug met ’n opwindende nuwe roete,” het die organiseerders gesê.
Vorige wenners
2022: Plettenbergbaai – Windhoek (2 750 km)
Wenner: Abdullah Zeinab (Australië)
Fiets: Curve Ekar Kev (GXR)
2023: Plettenbergbaai – Windhoek (2 750 km)
Wenner: Kevin Benkenstein (Suid-Afrika)
Fiets: Curve Big Kev


