Die Tour bietjie later, maar kwater

Fietsry
Tielman Van Lill
Inskrywings het gister vir die lank verwagte Pupkewitz Megabuild Tour de Windhoek geopen.
Namibië se voorste meerdaagse resiesfietstoer vind van 2 tot 5 Mei in en om die hoofstad plaas. Spanne sal in die hoofkompetisie mekaar oor vier dae en ses skofte opdreun.
Vir die minder ernstige, dog avontuurlustige ryers is daar die Tour de Windhoek Lite oor drie dae en vier skofte.
Die Namibiese Fietsryfederasie sê: “Maak gereed vir die mees uitsonderlike fietsry-avontuur nog! Die Tour De Windhoek is terug en beter as ooit! Sluit by ons aan vanaf 2 tot 5 Mei 2024 terwyl ons deur die asemrowende landskappe van Windhoek trap.
“Maak gereed om die opwinding van die rit te omhels, met trots aan jou gebring deur Pupkewitz Megabuild.”
Martin Schoeman, besturende direkteur van Pupkewitz Megabuild, sê: “Ons is opgewonde om ons hernude ondersteuning vir die Tour de Windhoek te bevestig. Dis ’n geleentheid wat die gees van fietsry en avontuur uitbeeld en terselfdertyd die skilderagtige skoonheid van Windhoek ten toon stel.”
Professionele fietsryspanne uit Suid-Afrika het tevore gereeld Namibië vir die byeenkoms besoek. Hul teenwoordigheid word deur plaaslike spanne deurgaans hoog op prys gestel.
Verlede jaar het die Namibiese spanne uitsonderlik goed gevaar en Drikus Coetzee was onkeerbaar in sy aanslag.
In die kleure van Simonis Storm aangedryf deur Hollard het hy die trui vir die beste Namibiese ryer ingepalm, die polkadot-trui as beste klimmer opgeraap, die geel trui vanaf die tweede dag gedra en as die algehele wenner na vore getree.
Die volgende vier posisies is deur Suid-Afrikaanse jaers ingeneem, voor Alex Miller (vyfde) as die volgende Namibiër.
Melissa Hinz, Coetzee se eweknie, was ook onstuitbaar. Hinz het die proloog op die eerste dag gewen en nie weer teruggekyk nie. Anri Krugel, haar spanmaat van Simonis Storm Ladies aangedryf deur Hollard, was tweede en Genevieve Weber (LEMA Ladies) derde.
Voornemende deelnemers kan by https://register.chronotrack.com/r/78886 registreer.
Inskrywings kos N$5 800 per span en vir ryers in die Tour de Windhoek Lite is dit N$580 per inskrywing.
Die Tour de Windhoek word ook deur Bosch, Africa BuildWise Manufacturing & Distribution, CYMOT, Dulux Namibia, Duram, Gentech Industries, GetGraphics, Makita Power Tools South Africa, Marathon Tools, NEO Paints, Ohorongo Cement Namibia, Plascon Namibia en WISPECO ondersteun.