Dippenaar swaai septer vir vierde Tara-titel

Tydrenne
Windhoek-motorklub se jaarlikse Tara-tydren was opnuut 'n hoogtepunt vir tydrenentoesiaste.
Tielman Van Lill
Wilro Dippenaar het geskiedenis gemaak toe hy Saterdag sy vierde Tara-tydrentitel saam met sy navigator, Carolyn Swan, opgeraap het.
Die moordende jaarlikse Tara-tydren, ondersteun deur M&Z Motors en Puma Energy, het Donderdagaand by die Tony Rust-renbaan spanne met twee superspesiale trajekte asook 16 spesiale sneldele weggespring.
Net 11 van die ingeskrewe 16 spanne kon Saterdagnamiddag ná 212 kilometer by Tony Rust vir die finale telling inklok.

Sedanmotorklas algeheel (S1 tot S4)
Dippenaar en Swan, wat ook verlede jaar die Tara gewen het, het sy S4-klas PZN Panelbeaters 4x4-Ford Fiesta R5 onberispelik deur sy passies gesit om hul 2023-titel suksesvol in 1 uur 55 minute 47 te verdedig.
Allan Martin en Maretha Olivier het vir ‘n geruime tyd nie aan tydrenne deelgeneem nie. Maar dit het nie die gesoute duo gekeer om in 2:03:41 met Martin se S4 J&P Hydraulics 4x4-Skoda Fabia R5 die tweede plek in te neem nie.
Zachary Martin en Anique Schoeman jaag puik met sy S2 J&P Hydraulics 2x4-VW Polo vir ‘n derde posisie in 2:18:33.
Wido Bartsch en navigator Raymond Fourie (vierde) asook Pieter Greeff en JP Robinson (vyfde) was volgende in die Tara. Bartsch neem die tweede plek in die S2-klas met sy Safewear 2x4-VW Polo in, terwyl Greeff eerste met sy S1 sealconsultingengineers 2x4-Toyota Corolla in sy klas eindig.
Die enkele Suid-Afrikaanse inskrywing, met Paul van Wyk agter die stuurwiel en navigator Matt Kohler in ‘n S4 acciDent Guru 4x4-Audi S3, was een van die Tara se eerste slagoffers. Hul deelname het Vrydagoggend by Rehoboth tot ‘n einde gekom toe ‘n skokbreker die gees gegee het, terwyl ‘n laer beheerarm ook gebreek het. Van Wyk het wel Saterdagnamiddag by Tony Rust die laaste sneltrajek afgelê om die tydren seremonieel te voltooi.
Stefanie Botha, met Amanda Hugo langs haar, het haar S4-klas 4x4-Subuaru Saterdag ná die elfde Supertrajek onttrek.

Veldklas (CR1, CR2)
Loic Bathfield en Johan Steyn was te vinnig vir die res met sy 7-liter V8.
Bathfield en Steyn asook Ekko Eisenberg en Horazio Rietz het vanjaar aan hul tweede Tara deelgeneem.
Bathfield en Steyn het die afgelope jaar in ‘n gedugte eenheid met sy CR2 African Gas 2x4-Century Racing CR6 ontwikkel. Hulle oorheers die tydren totaal en al in 1:54:03 vir sy eerste Tara-titel en die vinnigste tyd in beide klasse.
Jandré Dippenaar en Gielie Visser behaal met 1:59:34 die tweede plek met sy CR2 PZN Panelbeaters 4x4-Hilux 5 L V8, terwyl Eisenberg in 2:23:07 vir die derde posisie met ‘n CR1 M&Z Motorsport 2x4-JAC 4 L V8 parkeer.

DNF-slagoffers
Ruaan Viviers/Cecil Koorts (CR2 CDC Solutions 4x4-Renault Duster 5 L V8), Ewald Bisschoff/Hein Bisschoff (CR1 2x4-Hilux 4 L V8) en Rian Kritzinger/MP Pretorius (CR2 Auto Care Centre 4x4 Ford Ranger 5 L V8) onttrek al drie ná sneldeel tien.

Algehele uitslae
Sedanklasse S1-S4: 1 Dippenaar/Swan, 2 Martin/Olivier, 3 Martin/Schoeman, 4 Bartsch/Fourie, 5 Greeff/Robinson.
S4-klas: 1 Dippenaar/Swan (1:55:47), 2 Martin/Olivier (2:03:41).
S2-klas: 1 Martin/Schoeman (2:18:33), 2 Bartsch/Fourie (2:23:07).
S1-klas: Greeff/Robinson (2:31:38).
Algeheel veldklas, CR1- en CR2-klas: 1 Bathfield/Steyn (1:54:03), 2 Dippenaar/Visser (1:59:34), 3 Eisenberg/Rietz (2:23:07), 4 Werner Bartsch/Christel Fourie (2:34:27), 5 Chrizelda Engels/Ruan de Lange (2:39:00), 6 WJ Schoeman/Chané Havenga (2:43:14).
CR2-klas: 1 Bathfield/Steyn, 2 Dippenaar/Visser, 3 Bartsch/Fourie (4x4-Ford Courier 3 L V6).
CR1-klas: 1 Eisenberg/Rietz, 2 Engels/De Lange (2x4-Nissan NP300 5 L V8), 3 Schoeman/Havenga (2x4-Steckel’s Toyota Hilux GD6).
[email protected]