Dreyer die wenner by Windhoek-klub
Die Windhoek Gholfklub het Saterdag die Beuke & Associates individuele stableford-kompetisie aangebied, wat gewis nie in maklike toestande beslis is nie.
Spelers moes hul planne aanpas by die aangepaste voorgee-indeks wat met die helfte verminder is. ‘n Warm dag het die uitdaging verder bemoeilik en het die spelers se konsentrasie, uithouvermoë en aanpasbaarheid beproef.
Die strategie het vrugte afgewerp vir Vincent Dreyer, wat as die wenner na vore getree het met ‘n indrukwekkende 32 punte.
‘n Goeie terugvegpoging deur Gelson Gideon het hom met 30 punte in die tweede posisie laat eindig.
Intussen het Claud Abrahams stilweg sy skuif gemaak om met 28 punte te eindig en op grond van ’n uittel die derde posisie in te palm.
Die naweek het meer as bloot gholfvernuf vereis, maar ook strategie, geduld en vasberadenheid.
Drie gelukspryse van biltong geborg deur The Corner Butcher is ook uitgedeel, wat deur Wilfried Emvula, Daniel Nyaungwa en Chantel Visser ontvang is.


