Drieë reën in die NRU premierliga

Rugby
UNAM versterk hul halfeindhoop, terwyl United en Rehoboth 'n 113-punte-riller oplewer.
Brian Munango

FNB UNAM het Saterdag 'n belangrike oorwinning van 48-33 oor FNB Reho Falcon by die UNAM-rugbystadion behaal om hul aanspraak op 'n plek in die Namibië Rugby-unie (NRU) Premierliga se halfeindronde verder te versterk.

UNAM het van die eerste minuut af hul aanvallende voornemens gewys. Skrumskakel Caeden Moller het die openingsdrie gedruk, waarna Aljarreau Zaahl die doelskop oorgeklits het. Zaahl het later ook 'n strafskop en 'n drie by sy persoonlike telling gevoeg, terwyl Don-Juan Beukes met twee drieë 'n groot rol in die tuisspan se oorwinning gespeel het.

Reho Falcon het egter nooit tou opgegooi nie. Die besoekers het met twee vroeë strafskoppe die druk behou voordat Cliven Loubser 'n los bal opgeraap en onder die pale gaan druk het. Hy het ook die doelskop oorgeklits, en Falcon het later nog 'n verdoelde drie bygevoeg om die eindtelling meer eerbaar te maak.

Die wedstryd is ook deur dissiplinêre optrede gekenmerk toe Alcino Isaacs van UNAM en M. van Wyk van Reho Falcon albei met rooi kaarte van die veld gestuur is ná 'n voorval tussen die twee spelers.

Intussen het Montego United en FNB Rehoboth vir die skouspel van die naweek gesorg met 'n ongelooflike 66-47 oorwinning vir United in Windhoek. Altesaam 16 drieë en 113 punte is aangeteken in een van die mees vermaaklike wedstryde van die seisoen.

United het rustyd reeds met 38-32 voorgeloop nadat tien drieë in die eerste helfte gedruk is. Heelagter Jurgen Meyer was die uitblinker met vier drieë, terwyl flank Thehard Lintvelt twee keer gaan druk het. Suramie Kambombo, DJ Holtzhausen, Irongwa Atshivudhi en plaasvervanger Gerhard Opperman het elk ook 'n drie bygevoeg. Enrique Husselmann was foutloos met agt doelskoppe, hoewel hy later 'n geelkaart ontvang het. Skrumskakel Elzandro van Wyk is ook tydelik afgestuur.

Vir Rehoboth het Keathan Freygang en Carl Freygang elk twee drieë gedruk, terwyl Dihlen Daries en Kevin Cloete ook oor die doellyn is. Miquel Busch het vier doelskoppe en drie strafskoppe oorgeklits.

Elders het FNB Wanderers vir FNB Dolphins met 26-15 op Swakopmund gewen, terwyl FNB Grootfontein hul goeie vorm voortgesit het met 'n 50-14 oorwinning oor FNB Western Suburbs op tuisbodem.