Drietal na Kampala ingevlieg vir Emirate-botsing

Rugby
'n String professionele spelers kon nie die ekstra week bly vir die maak-of-breek wedstryd teen die Emirate nie.
Andrew Poolman
Drie plaasvervangers is uit Windhoek ingevlieg om by die Namibiese rugbyspan in Kampala, Uganda, aan te sluit vir die kwalifiserende valbylwedstryd teen die Verenigde Arabiese Emirate komende Saterdag.
FNB Kudus se heelagter Aston Mukwiilongo, FNB Unam se vleuel Quirione Majiedt en die slot/losvoorspeler van Stade Aurillac in Frankryk is die drietal wat deur die nasionale afrigter Jacques Burger nader geroep is om die kastaiings uit die vuur te help krap.
Laas Saterdag se nederlaag met 28-30 teen Zimbabwe in die eindstryd van die Rugby Afrika-bekertoernooi het vir die Sables hul plek in die 2027 Wêreldbeker in Australië verseker.
As Afrika se naaswenner takel Namibië noodgedwonge vir die eerste keer die langer ompad om vir die laaste beskikbare plek in die vergrote WB-toernooi van 24 spanne mee te ding.
Óf Namibië óf die Emirate sal die naweek oorleef om in November vanjaar teen die naaswenners van ander wêreldstreke (België, asook waarskynlik Kanada en Brasilië) sake uit te spook.
Namibië se spankeuse vir hierdie ekstra bepaling is gekompliseer deur die feit dat Aranos Coetzee (stut), Louis van der Westhuizen (haker) en Tiaan Swanepoel (losskakel) na hul professionele unie in Suid-Afrika, die Cheetahs, moes terugkeer.
Slot Johan Retief moes by Krasny Yar in Rusland gaan aanmeld; die ervare losvoorspeler Wian Conradie en binnesenter Le Roux Malan kon ook nie ‘n week langer aanbly nie.
Van die twee gekontrakteerde Pumas het slot Tiaan de Klerk beskikbaar gebly, maar vleuel Jay-Cee Nel was ongelukkig om teen Zimbabwe ‘n handbesering op te doen wat hom buite rekening laat.
Jacques Theron (skrumskakel) sal ná sy vermoedelike harsingskudding waarskynlik deur AJ Kearns vervang word, terwyl Danie van der Merwe vanaf vleuel geskuif kan word na die 9-trui waar hy die meeste van sy rugby gespeel het.
Vir Cliven Loubser moes ook ‘n plan B ingebring word, hoewel die puntemasjien se enkelbesering teen Zimbabwe steeds gemonitor word. Na verneem word kan die slot Oliver Kurz ook terug in die prentjie wees ná sy herstel van ‘n seer enkel verlede week.
Torsten van Jaarveld (Bayonne) en Armand Combrinck (Maties) behoort ook die haker-posisie te dek, terwyl Richard Hardwick (Grenoble) ‘n opsie in die lostrio bly.