Drikus waardeer kanniedood wat hom tot Rhino Run-sege druk
Namibië se koning van ultra-uithouwedrenne het gisteroggend die eindstreep van die 2 835 kilometer lange Rhino Run bereik, wat van Windhoek tot in Graaff-Reinet (Robert Sobukwe Town) in die Oos-Kaap van Suid-Afrika gestrek het.
Drikus Coetzee se tyd van agt dae, 04 uur en 20 minute op dié roete – meestal op grondpaaie en plaaspaaie, wat ook ’n draai by die Paarl in die Wes-Kaap gemaak het – stel ’n maatstaf wat dalk nooit oortref sal word nie.
As ’n vorige wenner van The Munga (2023 en 2024), die Nedbank Desert Dash (2022 en 2025) en die Race Across South Africa (1969 km in April 2026), was die uitmergelende Rhino Run die langste wedren wat Coetzee nóg aangepak (en voltooi) het.
Coetzee sê dié vertoning verskaf hom die grootste bevrediging, omdat hy deurentyd die kanniedood Fransman Stéphane Lombard as ‘n bedreiging agter hom gehad het.
Takties gesproke was Coetzee se langste bykans aaneen skof (488 km op dag een, van Windhoek na Betta) uiteindelik deurslaggewend.
“Ek het geweet dis tot my voordeel dat ek aan Namibië se hitte gewoond was. Ek was eerste by Solitaire en het ‘n goeie bord kos daar geniet. Ek het vir Stéphane gewag en hom ‘n uur voorsprong gegee voor ek weer vertrek en hom verbygesteek het. Ek het ook verder aangestoot terwyl hy by Sesriem geslaap het, om die voordeel te verkry.
“My langste skof in die fietssaal van 24 uur tot verby die Rooibergpas was betyds om voor ‘n reënbui te wees wat toe vir Stéphane sou vang, maar my achilleshiel het my ook toe reeds begin pla (tot op die laaste dag). Ek moes daar ook in ‘n stadium langs die pad slaap, toe ek nie meer kon wakker bly nie.
“Ek het die situasie geniet dat ons twee aan die voorpunt was wat mekaar onder druk geplaas het; waar jy jouself kon uitbrand as jy nie jou kaarte reg speel nie.
“Dit het ses dae geduur voordat ek begin agterkom het Stéphane kry swaar. Ek was nie skrikkerig om verder en harder te ry, of deur die nagtelike ure te druk, om my voorsprong van 80 of 120 of teen die einde 150 km te behou of te vergroot nie.”
Nadat ryers aanvanklik die erge hitte in veral Namibië moes trotseer, het die groter bergpasse, asook reën, modder en koue hulle tydens die latere stadiums ingewag.
In die pylvak het die Oos-Kaapse weer ‘n laaste onaangename struikelblok in Coetzee (33) se pad geplaas. Laat Maandagaand wou die Namibiër ná ‘n ruskans die laaste 80 km “relatief vinnig” gedurende die nag afhandel, maar die dik, glibberige, klewerige modder het enige vordering in 'n stadige en uitputtende stryd van skaars 10 km per uur verander.
Die ultra-wedren het vroeg op Maandag 12 Oktober in Windhoek begin.


