Droom om sewesrugby vanaf grondvlak te stimuleer
Skolerugby
Die DHL-sewesrugbytoernooi vir laerskole is afgelope naweek vir die tweede opeenvolgende jaar by Suiderhof Primêre Skool se veld aangebied.Met nege deelnemende skole het die toernooi gegroei tot ‘n totaal van 51 wedstryde vanaf Donderdag tot Saterdag, in die ouderdomsgroepe onder-11, o.12 en o.13.
Skole van onder meer die suide van die land, asook van die kusstreek het vir deelname na die hoofstad gereis om hulselfs teen die sentraalstreek se toonaangewende laerskoolspanne te meet.
Wessel Witbooi, organiseerder en afrigter van Suiderhof, sê die toernooi is uitgebrei met die byvoeging van ‘n plaatafdeling, waar spanne wat uitgeskakel is steeds in hul portuurgroep opgeweeg kon word.
Witbooi sê die toernooi is bedoel om Namibië se grondslag in sewesrugby vanaf die jongste ouderdomsgroepe te verbreed, om sodoende die ganse pyplyn van ontwikkeling na die topvlak van senior kompetisie te stimuleer.
“Persoonlik voel ek sewesrugby word ‘n bietjie afgeskeep. Ek reken gevolglik dat indien ons die kinders van die laerskoolvlak af blootstelling gee, sal die hoërskole ook hul deel doen om die ontwikkeling verder te voer, en daarna ook die senior strukture.
“Ek het die afgelope drie jaar ook as die NSSU o.17-sewespanne se spanbestuurder gedien op hul toere vir provinsiale kompetisies in Suid-Afrika. Die afgelope naweek se uitslae van die o.17-span op Worcester wys duidelik op die potensiaal in ons sewesrugby,” het Witbooi gesê, met verwysing na die Suid-Afrikaanse nasionale skole-sewesrugbytoernooi waar Namibië se My Zone NSSU-span vir die eerste keer tot die kwarteindstryd deurgedring het.
“As ons almal druk, en ons druk in dieselfde rigting, sal dit uiteindelik net tot voordeel van Namibië strek.”
Witbooi het Ongos Valley geprys vir sy betrokkenheid die afgelope twee jaar by ‘n landwye sewesrugbyreeks vir klubs, wat op 24 en 25 Oktober by die Hage Geingob-stadion sy hoogtepunt bereik.
Hy het ook waardering teenoor DHL wat die koste van die naweek se laerskole-sewesrugby gedra het.
Uitslae
Suiderhof het as gasheerspan sy erns gewys deur die uitklopfase van elk van die ouderdomsgroepe te haal. Sy o.11-span was wenners en die o.12-span het met die brons weggestap.
Laerskool Walvisbaai het die gesogte o.13-titel gewen en Parkies het die botoon gevoer met sy o.12-span.
Onder-11 bekerafdeling
1 Suiderhof Primêre Skool goud.
2 Laerskool Walvisbaai silwer.
O.11-plaatafdeling: 1 Orban Primêr; 2 Emma Hoogenhout I.
Onder-12 bekerafdeling
1 Pionierspark Primêr I goud.
2 Orban Primêre Skool silwer.
3 Suiderhof Primêre Skool brons.
O.12 plaatafdeling: 1 Windhoek Gimnasium; 2 Pionierspark Primêr II; 3 Namib Primêr.
Onder-13 bekerafdeling
1 Laerskool Walvisbaai goud.
2 Roots Gimnasium silwer
3 Pionierspark Primêr brons.
O.13-plaatafdeling: 1 Namib Primêre Skool, 2 Emma Hoogenhout I, 3 Emma Hoogenhout II.