Eagles breek Proteas se aanslag opnuut
“Dit voel onwerklik,” het JJ Smit – aangewys as speler van die wedstryd danksy sy boulvertoning van 3 vir 31 in Namibië se tweede T20I-oorwinning oor Suid-Afrika – tydens die oorhandigingseremonie gesê, kort ná nóg ’n historiese skokuitslag in die FNB driehoekige T20-reeks.
Sy gesigsuitdrukking het verklap dat hy dit skaars kon glo: die FNB Eagles het hul groter, gedugte buurland vir die tweede keer in twee ontmoetings geklop het, en hy was ‘n lid van die span wat dit albei kere vermag het.
In Oktober verlede jaar het Smit die agtste Suid-Afrikaanse paaltjie geneem – Gerald Coetzee, gevang op diep derdeman – terwyl Namibië die Proteas tot 134 vir 8 in 20 boulbeurte beperk het. Hierna het Smit 'n senuweeagtige 13 lopies van 14 balle aangeteken en moes toekyk hoe Zane Green en Ruben Trumpelmann 'n historiese oorwinning met die laaste bal beklink.
Afgelope Vrydag, tien maande later, is Smit met sy tweede bal vir ‘n nulletjie deur Prenelan Subrayen uitgeboul, te midde van ‘n ineenstorting van die Namibiese kolfbeurt waarin hulle nege paaltjies vir 79 lopies verloor het.
Die talentvolle kolwer Dewald Brevis het Suid-Afrika in die wedstryd gehou met sy 75 lopies van 50 balle, wat vier viere en vyf groot sesse ingesluit het.
Maar Brevis kon dit nie alleen doen nie. Toe hy uit is – met twee boulbeurte oor – was Namibië se kaptein Gerhard Erasmus met ‘n moeilike besluit gekonfronteer.
Suid-Afrika het 31 lopies benodig. Erasmus, Smit en Bernard Scholtz was die enigste boulers wat nog boulbeurte oor gehad het, en daarom het die kaptein besluit om self die moeilikste taak aan te pak.
Erasmus het die 19de boulbeurt geboul, slegs drie lopies afgestaan en het Bjorn Fortuin uitgeboul.
Al het Suid-Afrika 28 lopies van die laaste boulbeurt benodig, met Duan Jansen voor die penne, sou die bouler iemand moes wees wat sy senuwees in toom kan hou. En die ervare Smit was die regte man vir die taak.
Smit het eers 'n twee en toe 'n ses teen Jansen afgestaan. Suid-Afrika het 20 lopies van drie balle benodig. Dit was weliswaar 'n verlore stryd, maar Smit het nie 'n voet verkeerd gesit nie. Hy het sy streepbal perfek uitgevoer, dit toe weer probeer, waarmee Nqobani Mokoena uitgevang is, en die FNB Namibië-krieketstadion het opnuut in ekstase uitgebars toe Subrayen op middebaan uitgevang is om die wedstryd af te sluit.
Ruben Trumpelmann se linkerarm-snelboulwerk was opnuut van groot waarde (3/24) om van Lhuan-dre Pretorius (9), Brevis en Rubin Hermann (12) ontslae te raak.
Die jong Jack Brassell het ook vurig geboul (1/29 in 4 bb) en sy vangskoot bo sy kop om die Brevis-gevaar kort te knip, was ‘n treffer. Max Heingo het ook sy groeiende aansien as ‘n doring in die Proteas se vlees gestand gedoen (1/27 in 4).
Frylinck kry 60 teen nuwe bal
In Namibië se kolfbeurt is op ervaring staatgemaak met Jan Frylinck en Louren Steenkamp as die aanvangskolwers. Die twee het vroeg al aanvallend gespeel en hul vennootskap van 84 lopies in 9.4 boulbeurte was uiteindelik deurslaggewend.
Frylinck het grenshoue van die laaste twee balle van Duan Jansen se openingsboulbeurt geslaan, asook een van die volgende bal wat hy van Nqobani Mokoena ontvang het, om die tuisspan aan die gang te kry.
Met sy telling op 13, in die derde boulbeurt, het Frylinck ‘n noue ontkoming gehad toe hy ‘n hou oor die binnekring probeer slaan het, maar nie genoeg afstand gekry het nie. Jordan Hermann was onder die bal, maar hy en 'n spanmaat het teen mekaar vasgehardloop en die bal het uit sy greep geglip.
Frylinck het geen tweede uitnodiging nodig gehad nie. Hy het sy vyftigtal bereik met ’n reguit ses van Dewald Brevis se boulwerk, en het nog een ‘n ses bygevoeg voordat hy vir 60 lopies uitgevang is. Steenkamp is vroeër deur Fortuin vir 41 van 29 balle (3x4 2x6) geboul.
• Krieket Namibië het aangekondig dat toeskouers vir vandag se wedstryd (Namibië teen Zimbabwe, om 14:00) kosteloos toegang tot die graswalle van die FNB Namibië-krieketstadion kan verkry. Gratis kaartjies moet egter vooraf op hul webblad bespreek word (ticketing.ncg.com.na).


