Eagles stel ODI-visier op Proteas
Krieket Namibië se nasionale manspan sal vandag opnuut ‘n appelkar probeer omgooi in hul historiese eerste ontmoeting teen hul gedugte buurland Suid-Afrika in die eerste van drie internasionale eendagwedstryde (ODI’s).
Die FNB Eagles se kaptein Gerhard Erasmus het gister op ‘n mediakonferensie erken dat die Proteas met ‘n goed gebalanseerde spelersgroep geen maklike taak sal wees nie, maar het ook die hoop uitgespreek dat Namibië weer soos in die T20-formaat juis sy beste vertonings vorendag kan bring wanneer hy teen die groen-en-goud te staan kom.
Erasmus sê die 50-boulbeurtwedstryde verg aanpassing en veel meer stamina, omdat ‘n skielike swaai van momentum nie noodwendig so bepalend as in T20-krieket is nie.
“In ‘n wedstryd oor 300 balle per span kan uiteraard meer gebeur as in 120 balle per span.”
Hy het uitgewys dat die kolfkrag van die Proteas een van die deurslaggewende faktore was wat hulle gehelp het om die pas afgelope driehoekige FNB T20-reeks teen Namibië en Zimbabwe te wen.
Erasmus het die hoop uitgespreek dat die Eagles ook in die eendagformaat goeie momentum sal opbou vir hul komende ICC Wêreldbeker Liga Twee-wedstryde teen die VSA en die Verenigde Arabiese Emirate, wat bepalend in hul strewe na kwalifisering vir volgende jaar se ICC Wêreldbeker sal wees waarvan Namibië, Suid-Afrika en Zimbabwe mede-aanbieders is.
Suid-Afrika se kaptein Bjorn Fortuin het gesê sy span het reeds blootstelling aan die Namibiërs en hul vaardighede gehad en hy verwag dus ‘n soortgelyke kompeterende uitdaging teen gemotiveerde opposisie.
“Namibië ken hul eie toestande en is in staat om goeie krieket te lewer. Ons het pas twee hoogs kompeterende (T20-)wedstryde teen die Eagles gehad en hulle kan nie ligtelik opgeneem word nie.”
Namibië sal waarskynlik graag in die komende reeks wil sien wat Michael van Lingen kan doen, wat ná ‘n tydelike uittrede sy terugkeer tot internasionale krieket maak as een van die Eagles se mees suksesvolle kolwers in die eendagformaat.
Die drie ODI’s word vandag, Vrydag en Sondag gespeel. Spel by die FNB Namibië Krieketstadion begin daagliks om 09:30.


