Eagles stoei om Nepal tweede keer te klop

Krieket
Die hardnekkige tuisspan is geesdriftig ondersteun, maar ondanks die verlies van agt paaltjies het Namibië laaste gelag.
Tielman Van Lill
Die Richelieu Eagles (172 vir 8 in 40 boulbeurte) het gister hul tweede internasionale eendagwedstryd (ODI) teen Nepal met twee paaltjies beklink.
Die Namibiërs, wat die deurslaggewende loot gewen en die beproefde patroon in Kirtikur gevolg het om Nepal eerste te laat kolf, het wel meer paaltjies verloor om die jaagtog meer spannende te maak as wat hulle sou verkies.
Elke twee wenpunte in die ICC Wêreldbeker Liga Twee-reeks (2024-2027) is nietemin goud werd.
In die huidige driehoekige mini-toernooi in Nepal is die Namibiërs se laaste eendagwedstryd Vrydag teen Nederland, wanneer hulle bitter graag wraak sal wil neem vir hul vorige nederlaag.
Bernard Scholtz (4 paaltjies vir 31 in 10 boulbeurte) en Nicol Loftie-Eaton (4/34 in 6.1) se puik draaiboulwerk het gister tesame met uitstekende bydraes met die kolf van Gerhard Erasmus (52 van 56 balle, 8x4, 2x6), JJ Smit (34 nie uit nie, 66 b, 1x4, 2x6) asook Michael van Lingen (31, 34 b, 4x4, 2x6) die Rhinos se momentum gestuit, ondanks hul tuisskare se geesdriftige ondersteuning.
Loftie-Eaton behaal in 6.1 boulbeurte sy eerste vierpaaltjies-oes in internasionale eendagkrieket.
Erasmus se vyftigtal is sy 13de in 42 kolfbeurte in ODI’s, tesame met twee honderdtalle wat sy kolfgemiddeld tot 43.62 en sy totaal tot 1 614 lopies laat opskuif.
Die gasheerspan moes eerste gaan kolf nadat Erasmus vir die tweede keer in dié toernooi die val van die munt reg teen Nepal voorspel het. Hopelik sal dieselfde gelukkie môre teen Nederland kan herhaal, anders sal die Eagles-kolwers werklik uitsonderlik moet kolf om ’n verdedigbare teiken vir hul teenstanders op die telbord te plaas.
Die Rhinos (168 almal uit in 37.1 bb) se kolftotaal het 36 meer lopies opgelewer as in hul eerste ODI laas Donderdag teen die Eagles, toe hulle ook eerste moes gaan kolf.
Die paaltjiewagter en aanvangskolwer Aasif Sheikh se 58 lopies (64 balle, 8x4, 1x6), Kushal Malla op vyf (36, 52 b, 1x4, 3x6) en Bhim Sharki op sewe (26, 36 b, 3x4) was Nepal se voorste kolwers.
Danksy Bernard Scholtz se puik boulwerk met vier paaltjies kon hul lopiemasjien en aanvangskolwer Kushal Bhurtel (18 van 16 b) en nommer drie Anil Sah (0 van 2 b) nie veel skade aanrig nie.
Scholtz se linkerarm draaiballe het ook van Sheikh en Sharki ontslae geraak.
Jack Brassell het gesorg dat nommer vier Dev Khanal ook vir ’n nulletjie moes terugstap, terwyl Nicol Loftie-Eaton die Nepal-kaptein, Rohit Paudel op ses (0), dieselfde voorgeskrewe medisyne toegedien het.
Loftie-Eaton lok ’n oorywerige Dipendra Singh Airee (6) uit sy kolfkampie en hy word deur Zane Green agter die paaltjies gestonk. Die Namibiër se vernuftige draaiboulwerk laat Sompal Kami op nege (4) en KC Karan op tien (12) onverantwoordelike houe vir vangkanse speel wat gretig deur Niko Davin en Michael van Lingen benut word.
Die Eagles behaal 26 grenshoue (19x4, 7x6) en Nepal 22 (17x4, 5x6).
Boulontledings vir Namibië: Scholtz (4/31 in 10, 2 leeg), Loftie-Eaton (4/34 in 6.1), Erasmus (1/38 in 10, 3 leeg) en Brassell (1/24 in 5).
Boulontledings vir Nepal: Bhurtel (3/28 in 5), Malla (1/15 in 7, 3 leeg), Singh Airee (1/17 in 7), Paudel (1/29 in 7, 1 leeg) en Lalit Rajbanshi (1/47 in 7, 1 leeg).
[email protected]