Eagles struikel oor Nederlandse hekkie
Namibië en Nepal het elk reeds ’n Internasionale Eendagwedstryd (ODI) teen Nederland verloor in die huidige minireeks van die Internasionale Krieketraad (IKR) se Wêreldbekerliga 2-kompetisie in Utrecht.
Die drie spanne speel elk twee ODI's teen mekaar, met twee ligapunte op die spel vir elke oorwinning. Die FNB Eagles het hul eerste ontmoeting teen die Nepalese Rhinos verlede week met agt paaltjies gewen, maar is die afgelope naweek deur Nederland met 58 lopies geklop nadat die gasheer Namibië in 47.5 boulbeurte uitgeboul het.
Die Eagles se tweede wedstryd teen Nepal is gister gespeel, terwyl hul laaste kragmeting teen Nederland môre plaasvind.
Nederland het eerste gekolf en 251/6 in sy toegelate 50 boulbeurte aangeteken teen ’n gemiddeld van 5.02 lopies per boulbeurt. Namibië moes 252 vir die oorwinning aanteken, maar is vir 193 uitgeboul.
Bas de Leede was die hoeksteen van Nederland se sege met 97 lopies van 92 balle. Hy het vyf viere en drie sesse geslaan teen ’n treftempo van 105.43. Openingskolwer Max O'Dowd (39) en kaptein Scott Edwards (40) het ook waardevolle bydraes gelewer.
Vir Namibië was Nicol Loftie-Eaton die suksesvolste paaltjienemer met 2/50 in ses boulbeurte, hoewel hy teen 8.33 lopies per boulbeurt duur was. JJ Smit, Ruben Trumpelmann, Bernard Scholtz, Gerhard Erasmus en Jack Brassell het gesamentlik teen 'n gemiddeld van 4.79 lopies per boulbeurt geboul.
Scholtz was besonder ekonomies met sy syfers van 1/21 in tien boulbeurte – net 2.10 lopies per boulbeurt – die beste ekonomiese boulvertoning van die wedstryd.
Nederland se boulaanval het egter die Eagles se kolwers onder groot druk geplaas.
Namibië se topdrie kolwers was reeds terug in die kleedkamer met die telling op 52. Malan Kruger het 36 aangeteken, terwyl Michael van Lingen (15) en Jan Frylinck (1) min bygedra het.
Louren Steenkamp was die uitblinker met 68 van 87 balle, terwyl kaptein Gerhard Erasmus 27 van 49 balle bygevoeg het. Geen ander kolwer kon egter 'n betekenisvolle vennootskap bou nie.
Aryan Dutt en Logan van Beek was die argitekte van Nederland se oorwinning met vier paaltjies elk. Dutt het Steenkamp, Loftie-Eaton, Zane Green en JJ Smit laat terugstap, terwyl Van Beek van Lingen, Frylinck, Erasmus en Trumpelmann se paaltjies geneem het.


