Eagles te goed vir die res
Namibië se nasionale senior manskrieketspan, die FNB Eagles, het Dinsdag die internasionale T20-drienasiereeks teen Hongkong en Nigerië met hul vierde opeenvolgende oorwinning in die hoofstad beklink.
Soos in hul vorige T20I-wedstryd by die FNB Namibië Krieketstadion, het die Eagles min teenstand van Nigerië gekry en die laaste wedstryd met 93 lopies gewen.
Namibië het eerste gekolf en 220 lopies vir die verlies van vyf paaltjies in die toegelate 20 boulbeurte aangeteken (220/5). Nigerië is nie uitgeboul nie, maar is tot 127/9 in sy 20 boulbeurte beperk.
Nicol Loftie-Eaton, wat Maandag teen Hongkong nie ’n kolfkans gekry het nie, het as openingskolwer vir die Eagles ingestap en ook sy volle vier boulbeurte afgestuur.
Alexander Volschenk, die speler van die wedstryd, het ná ’n teleurstellende vertoning teen Hongkong op indrukwekkende wyse teruggeslaan. Nadat hy Maandag vir ’n nulletjie been voor paaltjie betrap is en Saterdag slegs 12 lopies aangeteken het, het hy dié keer 72 lopies van 32 balle gemoker. Sy beurt het nege grenshoue ingesluit – sewe sesse en twee viere. In Namibië se eerste wedstryd teen Hongkong het hy ook 69* van 56 balle behaal.
Gerhard Erasmus se blitsige 51 van 20 balle (2x4, 5x6) was die tweede hoogste telling, gevolg deur Junior Taanyanda se 35 van 29 balle (2x4, 2x6).
Met die bal was die draaibalboulers Bernard Scholtz en Gerhard Erasmus die ekonomiesste teen slegs drie lopies per boulbeurt. Scholtz het twee paaltjies laat kantel.
JC Balt was egter die uitblinker. Die draaibalbouler het vier paaltjies vir 20 lopies in sy vier boulbeurte geneem teen ’n ekonomie van vyf. Hy het boonop ’n driekuns teen Nigerië behaal. Loftie-Eaton, ook ’n draaibalbouler, het twee slagoffers geëis teen ’n ekonomie van 7.5.
Vir Nigerië was Abdullahi Ismail die beste van die ses boulers. Hy het drie paaltjies vir 20 lopies in vier boulbeurte geneem teen ’n ekonomie van vyf. Sy spanmaats is egter teen tussen 9.25 en 15 lopies per boulbeurt gestraf.
Vincent Adewoye (28) en Sylvester Okpe (27) het die meeste weerstand teen die Eagles se boulers gebied nadat die openingskolwers vroeg teruggestuur is.
Die Eagles se lopies (volgens kolforde)
Nicol Loftie-Eaton 16 (13 balle, 2x4, SR 123.08), Junior Taanyanda 35 (29 b, 2x4, 2x6, SR 120.69), Gerhard Erasmus 51 (20 b, 2x4, 5x6, SR 255), Alexander Volschenk 72 (32 b, 2x4, 7x6, SR 225), Zane Green 18 (12 b, 3x4, SR 150), Dylan Leicher 8* (9 b, 1x4), JC Balt 8* (6 b). Ekstralopies: 11. Grenshoue: 26 (12x4, 14x6).
Nigerië se boulsyfers
Abdullahi Ismail 3/20 (4, ekon. 5), Taiwo Mohammed 1/37 (4, ekon. 9.25), Vincent Adewoye 1/54 (4, ekon. 13.5), Kenneth Boniface 0/21 (2, ekon. 10.5), Chima Akachukwu 0/56 (4, ekon. 14), Sylvester Okpe 0/30 (2, ekon. 15).
Nigerië se lopies (volgens kolforde)
Selim Salau 9 (13 b), Salomon Chilemanya 0 (3 b), Isaac Danladi 35 (28 b, 3x4, 2x6), Sulaimon Runsewe 11 (13 b), Elijah Olaley 7 (9 b), Vincent Adewoye 28 (20 b, 1x4, 2x6), Sylvester Okpe 27 (23 b, 1x4, 2x6), Kenneth Boniface 9 (9 b), Chima Akachukwu 0, Taiwo Mohammed 0, Abdullahi Ismail 0. Ekstralopies: 1. Grenshoue: 12 (6x4, 6x6).
Namibië se boulsyfers
JC Balt 4/20 (4, ekon. 5), Bernard Scholtz 2/12 (4, ekon. 3), Nicol Loftie-Eaton 2/30 (4, ekon. 7.5), Max Heingo 1/22 (3, ekon. 7.33), Gerhard Erasmus 0/3 (1, ekon. 3), Waldo Smith 0/18 (2, ekon. 9), Jack Brassell 0/22 (2, ekon. 11).
Topspelers van die drienasiereeks
Algeheel (ranglyspunte)
- Gerhard Erasmus (302)
- Alexander Volschenk (283)
- Junior Taanyanda (264)
- Jan Frylinck (242)
- JJ Smit (235)
Kolwers
- Junior Taanyanda (165 lopies)
- Alexander Volschenk (154)
- Gerhard Erasmus (151)
- Jan Frylinck (144)
- Rath Anshuman (Hongkong) (118)
Boulers
- JC Balt (7 paaltjies)
- Rana Nasrulla (Hongkong) (7)
- Ehsan Khan (Hongkong) (7)
- JJ Smit (6)
- Jack Brassell (5)
Punteleer
- Namibië – 8
- Hongkong – 4
- Nigerië – 0
Reeksstatistieke
Wedstryde: 6 | Lopies: 1 734 | Paaltjies: 78 | Viere: 110 | Sesse: 77 | Vyftigtalle: 8 | Honderdtalle: 1 | Nulletjies: 9 | Driekunste: 1 | Vangskote: 38
Hoogste individuele telling: Jan Frylinck (110)
Hoogste span-telling: Namibië (230/6)
Laagste span-telling: Nigerië (76 almal uit)
Beste boulsyfers: Ehsan Khan (4/16)
Terwyl Hongkong huiswaarts keer, bly Nigerië agter vir ’n mini-eendagreeks (50 boulbeurte per span) teen Namibië.


