Eagles word werklik getoets
Namibië se voorbereiding is plaaslik afgehandel, en die span het reeds na Nederland vertrek waar hulle twee Internasionale Eendagwedstryde elk teen die gasheer en Nepal in die Krieketwêreldbeker Liga 2-kompetisie sal speel.
Die Krieketwêreldbeker Liga 2 is ’n kompetisie vir agt uitgesoekte assosiaatlande van die Internasionale Krieketraad (IKR). Dit dien as kwalifiseringsproses vir die 2027 Eendagkrieketwêreldbeker wat in Suid-Afrika, Zimbabwe en Namibië aangebied sal word. Die kompetisie strek oor vier jaar, van 2024 tot 2027.
Die Koninklijke Nederlandse Cricket Bond (KNCB) is volgende week die gasheer vir Namibië en Nepal wanneer hul nasionale span die FNB Eagles en Nepal in die Krieketwêreldbeker Liga 2-kompetisie op die Kampong-velde in Utrecht pak.
Die Eagles sal twee opwarmingswedstryde teen ’n Nederlandse A-span speel voordat hul Internasionale Eendagwedstryde aanstaande week begin.
Kuhn neem oor by Cook
Ryan Cook, hoofafrigter van Nederland, het in Junie 2026 bedank nadat sy vrou geboorte aan hul tweede kind geskenk het. Heino Kuhn, wat onder Cook as kolfafrigter gewerk het, sal die Oranje-span tydelik afrig.
Cook, ’n voormalige Suid-Afrikaanse Protea-speler, was sedert Mei 2022 Nederland se hoofafrigter.
Die waarnemende hoofafrigter, Kuhn, se span is ’n mengsel van ervaring en honger jong spelers. Scott Edwards (kaptein), Max O’Dowd, Roelof van der Merwe en Logan van Beek sal die jonger spelers, soos Alex Roy, lei. Tim Pringle maak ook sy terugkeer.
Kuhn het gesê:“Ons het ’n goed gebalanseerde span met ervare spelers en spelers wat nog aan die begin van hul loopbane staan. Die beserings is iets van die verlede en ons is gereed om met harde werk goeie vertonings te lewer. Ek is seker daarvan dat ons op enige dag ’n sterk span op die veld kan plaas, ongeag wie deel van die finale vyftiental is.
“Ons pak twee sterk spanne wat oor die afgelope twaalf maande goed gevaar het, en ons gaan hulle beslis nie onderskat nie. Dit is ’n fantastiese uitdaging waarna ons uitsien. Ons fokus is om die tipe krieket te speel waartoe ons in staat is en om sterk vertonings in al vier wedstryde by Kampong te lewer.”
Die Namibiese span en Internasionale Eendagstatistieke (ODI’s)
- Gerhard Erasmus (67 ODI’s, 2 268 lopies, 55 paaltjies vir 1 397 lopies)
- Bernard Scholtz (68, 322 lopies, 101 paaltjies vir 2 017 lopies)
- JJ Smit (56, 1 144 lopies, 56 paaltjies vir 1 300 lopies)
- Zane Green (55, 1 098 lopies)
- Jan Frylinck (52, 1 079 lopies, 37 paaltjies vir 1 034 lopies)
- Ruben Trumpelmann (52, 545 lopies, 77 paaltjies vir 1 949 lopies)
- Nicol Loftie-Eaton (51, 1 113 lopies, 29 paaltjies vir 715 lopies)
- Michael van Lingen (40, 1 318 lopies, 2 paaltjies vir 79 lopies)
- Malan Kruger (22, 438 lopies)
- Jack Brassell (13, 8 lopies, 15 paaltjies vir 447 lopies)
- Louren Steenkamp (4, 197 lopies)
- JC Balt (3, 35 lopies, 0 paaltjies vir 23 lopies)
- Max Heingo (2, 3 paaltjies vir 100 lopies)
- Waldo Smith (0)
- Alexander Volschenk (0)
Reisende reserwe: Dylan Leicher (8 ODI’s, 154 lopies, 2 paaltjies vir 109 lopies).
Nederland
Scott Edwards (72 ODI’s, 2 166 lopies), Alex Roy (2, 15 lopies, 2 paaltjies vir 74 lopies), Aryan Dutt (56, 225 lopies, 68 paaltjies vir 2 103 lopies), Bas de Leede (57, 1 282 lopies, 45 paaltjies vir 1 458 lopies), Cedric de Lange (3, 76 lopies), Saqib Zulfiqar (15, 194 lopies, 9 paaltjies vir 336 lopies), Kyle Klein (21, 142 lopies, 40 paaltjies vir 771 lopies), Max O’Dowd (68, 2 217 lopies, 1 paaltjie vir 49 lopies), Logan van Beek (35, 481 lopies, 47 paaltjies vir 1 649 lopies), Noah Croes (24, 416 lopies), Ryan Klein (14, 46 lopies, 12 paaltjies vir 536 lopies), Roelof van der Merwe (42, 317 lopies, 48 paaltjies vir 1 604 lopies), Tim Pringle (4, 6 lopies, 1 paaltjie vir 221 lopies), Vikramjit Singh (46, 1 304 lopies, 7 paaltjies vir 257 lopies) en Zach Lion-Cachet.
Namibië het in April vanjaar twee Internasionale Eendagwedstryde elk teen Skotland en Oman in Windhoek gespeel. Die Eagles het een wedstryd teen Oman gewen, terwyl hulle twee teen Oman en Skotland verloor het.
Een wedstryd het weens reën sonder ’n uitslag geëindig nadat spel in die 47ste boulbeurt onderbreek is terwyl die Eagles gekolf het. Die wedstryd is daarna afgestel.
Die Eagles was in April ook in drie Internasionale T20-wedstryde teen Skotland in aksie. Die Skotte het twee gewen en Namibië een.
Huidige punteleer van die Krieketwêreldbeker Liga 2
(Elke land speel 36 wedstryde)
- Verenigde State van Amerika – 43 punte (32 gespeel, 21 gewen)
- Skotland – 38 (32, 16)
- Nederland – 32 (28, 14)
- Oman – 31 (28, 14)
- Nepal – 24 (28, 11)
- Kanada – 24 (28, 10)
- Namibië – 22 (28, 10)
- Verenigde Arabiese Emirate – 14 (24, 7)
Die Eagles het gesamentlik 485 Internasionale Eendagwedstryde op hul getuigskrig, terwyl Nederland met 459 spog.
Program
21 Julie: Namibië teen Nepal
23 Julie: Nederland teen Nepal
25 Julie: Namibië teen Nederland
27 Julie: Namibië teen Nepal
29 Julie: Nederland teen Nepal
31 Julie: Namibië teen Nederland


