Een doelskop beklink titel vir taai Witz Barbarians

Sewesrugby
Andrew Poolman
Die insluiting van twee besoekende spanne uit Suid-Afrika het sonder twyfel die profiel en vlak van kompetisie in die naweek se tweede weergawe van die Ongos Valley sewesrugbykampioenskap hoër gelig.
In die huidige Namibiese rugbyseisoen wat gekenmerk is deur soms wekelange periodes sonder wedstrydbepalings wat die momentum op die oefenveld ondermyn, het verskeie klubs hulle met wedstrydgroepe bevind sonder van hul spelers wat normaalweg in hul vyftienman-eerstespanne sou wees. Lede van die nasionale oefengroep is ook tans onbeskikbaar.
Nogtans het die Ongos Valley sewestoernooi ‘n waardevolle geleentheid gebied om spelers blootstelling aan die korter weergawe van die sport te gee en om moontlike talent vir latere nasionale verpligtinge deur te kyk.
Die 2025-toernooi het ‘n indrukwekkende triomf vir die Bolandse klubkombinasie Witz Barbarians gebring, wat ‘n 18-uurlange busrit uit die Wes-Kaap te bowe gekom het voordat hulle die voorste Namibiese klubspanne om die titel uitgestof het.
In die bekerfinaal het Witz Barbarians met 14-12 teen FNB Wanderers geseëvier, nadat die spanne met rustyd op 7-7 gelykop was.

Groepfase
Die Bolanders het vroeër hul vier groep B-wedstryde met oortuiging gewen – teen FNB Reho Falcon (29-7), die Sentraal Droomspan (48-7), FNB Grootfontein (33-10) en Trustco United (33-7).
In Groep A het Wanderers onoorwonne boaan klaargemaak met seges teen die Assassins van die Boland (15-12), FNB Western Suburbs (31-21), die Kharas Droomspan (29-0) en FNB Rehoboth (43-0).
Intussen het die verdedigende titelhouer FNB Kudus, wat 2024 se eindstryd teen Trustco United gewen het, ook met groot selfvertroue sy plek in die halfeindronde bespreek. Afrigter Roger Thompson se manne het gemaklik verby FNB Dolphin (45-12), die Erongo Droomspan (54-0), die Ongos-uitnodigingspan (33-12) en FNB Unam (45-19) geseil.
Die vierde semifinalis sou die span wees wat in die beste tweede posisie in enige groep sou eindig. FNB Grootfontein het hierdie eer ingepalm met drie oorwinnings en een nederlaag vir 12 ligapunte. Die noordespan kon nie by Witz Barbarians verbykom nie (10-33), maar het wel met die Sentraal Droomspan (24-12), United (33-24) en Reho Falcon (26-15) afgereken.

Uitklopfase
Met die onvermydelike uitputting van ‘n vol dag se sewesrugby met beperkte hersteltyd, was die eerste semifinaal tussen Witz Barbarians en FNB Kudus beslis een van die mees intense kragmetings van die ganse toernooi.
Die Bolanders het soos tiere verdedig – maar ook hul oomblikke van towerkuns, balvernuf en spoed uitgehaal om die Walvisbaaiers met drie drieë teen nul (21-0) te knak.
Hierteenoor het FNB Wanderers sy semifinaal teen Grootfontein met ‘n uiteindelik gemaklike verskil (40-10) beklink.
Skrumskakel Jason Morkel en vleuel Tolley Tjipute was driedrukkers vir Wanderers in die eerste helfte, asook ‘n strafdrie nadat stut Iyambo Tshuua met ‘n hoogvat op die doellyn aangeslaan het, wat ook ‘n geelkaart vir Niel Holtzhausen beteken het.
In die tweede helfte is vleuel Irongwa Atshivudhi se drie vanaf ‘n lynstaan onmmiddellik vanaf die volgende twee afskoppe met nog twee drieë deur vleuel Esegiel Unanisa opgevolg. Die losskakel en kaptein Kian Fransman se doelskoppe het die telling help vergroot.
Vir Grootfontein het die voorspeler Pieter Luttig en vleuel Lazarus Joseph se drieë onverdoeld gebly.
Bronsfinaal: Grootfontein klop Kudus met 33-22.

Bekerfinaal
Vir Wanderers het die veelsydige agterspeler SW Kuhn, wat ‘n uitstaande toernooi op verdediging én aanval gelewer het, net voor die rustyd se toeter ‘n langafstand wegholdrie gaan druk.
Saam met Kian Fransman se akkurate doelskop het dit die eerste helfte op 7-7 laat afsluit, ná die Bolanders se eerste trefhou deur die middelveld met tipiese spoed en goeie hantering.
Ná ‘n lang onderbreking is een van die Barbarian-spelers, Eldon McLoud, op ‘n draagbaar afgedra. Kian Fransman se drie het Wanderers met 12-7 voor geplaas, maar die voorsprong het nie lank gehou nie toe die Bolanders se samespel hulle ‘n verdoelde drie onder die pale besorg het. Hy het agterna
Wanderers het steeds kanse geskep om die uitslag te beklink, maar Tolley Tjipute kon ‘n slag voor die hoofpawiljoen-kantlyn nie ‘n laaste aangee raakvat nie.
In die stryd tussen twee waardige finaliste was dit die Bolanders wat net-net met die louere weggestap het.
Die Witz Barbarians was agterna vol waardering vir die ondervinding om in Windhoek te kon meeding. Hul kaptein en skrumskakel Nathan van Wyk is as die mees waardevolle speler van die toernooi aangewys.Hy het agterna sy span se fiksheid en veggees, asook die ondervinding van die ervare spelers as sleutelfaktore uitgewys.