Eerste spronge Saterdag by Gallina!

Motocross
Motorfietsenjins gaan brul, die sweet gaan tap en die adrenalien gaan pomp.
Tielman Van Lill
Die 2024 motocross-seisoen sal Saterdagoggend met groot afwagting met die eerste been van die Namibiese nasionale kampioenskapsreeks by die Gallina MX-park noord van Windhoek afskop.
Van die ryers wat vanjaar in die 50 cc-klasse dopgehou moet word, is Mason Meyer, Delmar du Plessis, Miko Botha, Carter Bouwer en Duhan Steenkamp. Die jong seuns is klein, maar gun mekaar nie ’n duim spasie nie.
In die 65 cc-klas sal Markus Pack, Oliver Matthews, Patrick Geiger, Connor Bouwer, Duhan van Wyk mekaar kliphard om die eerbewyse aandurf.
Juan de Vos, wat in 2024 in die 85 cc- en ook die 125 cc-klas gaan deelneem, sal by Marco Lindemeier en Leander Metzger aansluit. De Vos is ’n belowende jeugdige talent vir die toekoms.
Gero Friederich, Jarno Metzger, Bjorn Kebbel en Rigo Wolf sal opnuut die 125 cc-klas aan die brand jaag, terwyl die meester, Michael Swanepoel, sy terugkeer maak. Swanepoel is ’n nasionale kampioen van die tagtiger- en negentigerjare met alle denkbare ondervinding, wat in die senior 125 cc-klas sy ding gaan doen.
Zoe Waldschmidt sal weer saam met Ronja Friederich en Maike Bochert kleur aan die vroue-afdeling gee. Van die vroue is so goed dat hulle ook aan die King of the Dirt-wedren deelneem en selfs die mans klop.
In die Clubman-klas sal jaers soos Lourens du Plessis, JF van Eeden en Sanene Wittreich saam met veterane soos Sigi Pack, Olaf Pack, Ronald Geiger, Heiko Stranghoner en Tony Viljoen die toeskouers vermaak. Die veteraneklas is mededingend en staan vir g’n ander kategorie terug nie.
Mark Sternagel en Dale Davies sal in 2024 in die ope klas deelneem. Nóg jaers kan in dié topklas by hulle aansluit, maar Don-Ray Botha het ná die 2023-seisoen uit die sport getree. Hopelik kan Uwe Sternagel ook weer in aksie gesien word.
Die laaste en opwindendste resies van die dag is ongetwyfeld die King of the Dirt, waarvan Mark Sternagel die verdedigende kampioen is.
Baie werk is aan die verbeterde Gallina-baan gedoen en ure se genot lê vir toeskouers en jaers voor. Vermaak sal deur DJ Ru verskaf word. Eetgoed van Namib Smoked Meat House, Chip and Dip en The Taste Budis is saam met verversings vir die keel beskikbaar.
Die oefenrondtes vind eerste plaas en die eerste ernstige wedren begin teen 11:00. Die hekke maak reeds 06:00 oop en toegang voor 16:00 beloop N$20 per persoon.
Saterdag se byeenkoms word deur Fourie Security & Armed Response, Holm’s Construction, Honda, IngoStorage, Kickstart Events Hire & Promotions, namXsport, Nictus, OSH-Med International, Teltech Namibia en Waldschmidt Eggs ondersteun.
[email protected]