Enkele wendoel skei premierligaspanne
Klubhokkie
Die SOEHC-manspan en WOBSC-vroue het die eerste wenpunte vir die seisoen ingepalm.
Twee kompeterende wedstryde wat met die verskil van net ‘n enkele doel gewen en verloor is, is laas Saterdag in die openingsrondte van Namibië Hokkie se premierliga in buitenshuise veldhokkie afgehandel.MANS: Sege vir School of Excellence
By die Windhoek Affies-baan in Pionierspark het die School of Excellence hokkieklub (SOEHC) onder die kapteinskap van doelwagter Roben Kambinda met ‘n oorwinning van 4-3 teen die Saints-manspan van Dakota Hansen weggekom.
Ná ‘n eerste kwart sonder doele, het SOEHC die eerste treffer danksy Delron Handura kort voor die rustyd behaal. Hul voorsprong is deur Kavee Tjikunze tot 2-0 verdubbel, maar Saints het in die derde kwart met ‘n doel deur Liam Bruys teruggekap.
In die vierde kwart was Giované Handura die volgende doelskieter wat SOEHC met 3-1 voor geplaas het, voordat Saints se kaptein Dakota Hansen sy doel afgerond het.
Nog ‘n uitruiling van doele tussen Delron Handura, sy tweede van die wedstryd, en Owen Hatton vir Saints het die eindtelling op 4-3 te staan gebring.
VROUE: WOBSC klop DTS
Windhoek Old Boys (WOBSC) het vanaf die eerste kwart (1-0) tot en met die eindfluitjie die voorsprong behou op pad na hul oorwinning met 3-2 teen DTS by Windhoek Hoërskool se trustco .
Chené Tromp het die eerste doel vir die wenspan behaal, met geen doele wat in die tweede kwart bygevoeg is nie. Ná rustyd het Maryke Kruger vir DTS die telling gelykop gemaak, maar voor die volgende onderbreking het treffers deur Stefanie Smit en weer Tromp die skaal in WOBSC se guns geswaai.
In die laaste kwart se aksie was Maryke Kruger se tweede doel vir DTS die enigste verandering in die telling.
Ander ligas
Premier reserweliga, vroue: DTS klop NUST 1-0; SOEHC klop Saints derde span 3-1; Saints tweede span en SOEHC speel gelykop 0-0.
Premier reserweliga, mans: DTS klop NUST 2-1; Saints klop SOEHC 2-0.
• Komende bepalings word op ‘n weeklikse grondslag vrygestel. Die seisoen sal na verwagting nou deur die langnaweke en skoolvakansie onderbreek word.
• Die buitenshuise veldhokkieligas dien tans as 'n belangrike platform om veral die Namibiese o.21 mans- en vrouespelers op hul tone te hou, nadat die nasionale junior spanne onlangs beide vir die Wêreldbekertoernooie in hul ouderdomsgroep gekwalifiseer het.
Die FIH Junior Wêreldbekertoernooie vir mans en vroue word later vanjaar in onderskeidelik Indië en Chili aangebied.