Flaters volop, maar sege teen Kenia verwelkom
Rugby
Beide spanne het vier drieë gedruk, maar die Namibiërs se skopwerk was beter.
Akkuraatheid op die aanval het Namibië vir lang tye in die steek gelaat, maar met veggees en karakter het die nasionale junior span gister op koers gebly om die land se eerste titel sedert 2018 by die Rugby Afrika Onder-20 Barthés Trofee in te palm.Ná gister se oorwinning met 32-22 teen Keniane in Harare is die Namibiërs in die binnebaan om komende Sondag ook met Tunisië af te reken en sodoende die bekerdroogte ná sewe jaar te verbreek.
Afrigters Johan Zaayman en Jood Opperman se spankeuse het ‘n paar veranderinge ingesluit teenoor die kombinasie wat vier dae tevore vir Zimbabwe met 35-23 oorskadu het.
Hoewel die skuiwe op die afrigters se geloof in die diepte van die spelersgroep dui, kon die Namibiërs in die eerste helfte selde hul ritme vind. Die besluitneming balhantering in die agterlyn het gesukkel en ondanks ‘n oorvloed geleenthede kon die Namibiërs rustyd net ‘n skrale voorsprong van drie punte wys.
Dit het gewemel met flaters van alle soorte, insluitend vele aanslane en ‘n strafskop kantlyn toe wat agter die hoekvlag uitgeskop is.
Uiteindelik het die skrumskakel Schalk “SW” Kuhn ná 25 minute ‘n strafdoel oorgeskop, voordat hy in die 40ste minuut nog een misgeskop het.
Nadat die Keniane in die eerste helfte bra tandeloos gelyk het in vergelyking met vorige jare, het hulle ná rustyd moed geskep en vlam gevat om die eerste drie met ‘n teenaanval uit hul eie helfte te gaan druk. Regtervleuel Javan Odhiambo het die aanvoorwerk gedoen voor sy binne-aangee na senter Daniel Kipchirchir om pale toe te nael.
Kaptein Ben Burger en sy dominerende agttal het gou teruggeslaan met die eerste van die slot JP Campbell se twee drieë met lynstaandrywe (46ste en 52ste minute), maar ‘n nuwe swak plek is uitgewys met voortdurende swak hantering van afskoppe wat Kenia dadelik terug in die prentjie geplaas het.
Odhiambo het in die 48ste minuut ‘n resies na die doelgebied gewen vir sy drie nadat ‘n rolskop die Namibiërs moes laat omdraai.
Vir die tweede helfte is Maughan Jarman opgestuur om op losskakel oor te neem, met Van der Merwe Tromp wat binnesenter toe geskuif het. Jarman het op sy blink vertoning teen Zimbabwe voortgebou en het ‘n verskil gemaak om opnuut sy aandele te laat styg.
Die konstruktiewe drie ná 56 minute het Kenia ‘n knou toegedien. Vanaf ‘n lynstaan is die bal terug na die steelkant gevoer waar regtervleuel Jurgen Meyer vir heelagter AJ Vercuil aan sy binnekant weggestuur het. Jarman se doelskop van die kantlyn af was ‘n treffer (22-12).
Weer eens is die afskop nie goed hanteer nie en Kenia het op die aanval gebly tot hulle ‘n strafskop pale toe misgeskop het. Namibië se inskop was direk uit en hulle het in hul kwartgebied vasgepen gebly tot Kenia se buitesenter Daniel Kipchirchir vir sy onverdoelde tweede drie deur twee verdedigers gestorm het.
Met ‘n lynstaan-dryfdrie deur flank Walther Otto, verdoel deur Jarman, is die voorsprong tot 29-17 vergroot. Jarman het ook ‘n strafdoel bygevoeg vir sy span se laaste punte ná 75 minute.
‘n Verbroude duikslag in die middelveld het tot Kenia se vierde drie deur die linkervleuel Brian Kiptanui gelei, maar die uitslag was in Namibië se guns.
• Zimbabwe se wegholsege van 78-20 gister teen Tunisië sal vanweë die gasheerspan se nederlaag teen Namibië tevergeefs wees, indien Ben Burger en sy manne komende Sondag soos verwag aan die wenkant is.