Gillmer Horn se 300-tal plaas stempel op sy kolfvernuf
Krieket
Die twee sensasionele kolfbeurte van die Windhoekse Affies o.13-kolwer Gillmer Horn laas Saterdag het liefhebbers van krieket behoorlik na die rekordboeke laat reik. Die Prosperity Health T20 Skoolliga se twee o.13-finale is in Olympia tussen die streekwenners Windhoek Affies (Sentraal), Pro-Ed Akademie (kusstreek) en Edugate van Otjiwarongo (Noorde) afgehandel.
‘n Driehonderdtal en selfs ‘n tweehonderdtal in T20-krieket is bykans ongehoorde verskynsels – maar die 13-jarige Horn het beide op dieselfde dag vermag.
Altesame 59 sesse, 30 viere en 522 lopies in twee opeenvolgende T20-wedstryde op ’n enkele dag is waarmee Horn, die kaptein en paaltjiewagter van Windhoek Affies se o.13 A-span, geëindig het.
In die oggendwedstryd teen die Noorde-streekwenner Edugate by die United-veld het Horn 303 nie uit nie van net 82 balle aangeteken (37 sesse en 17 viere), wat WAP gehelp het om 386 vir een in 20 boulbeurte aan te teken en met ’n yslike 275 lopies te wen.
Nadat Horn sy 303* met ‘n ses op die telbord geplaas het, het hy boonop ná 16.4 boulbeurte onoorwonne afgestap om ‘n volgende spanmaat kolfkans te gee, hoewel nog ‘n hele 20 balle in die kolfbeurt oorgebly het.
Horn se fisieke krag en lengte, asook sy kolfvernuf, was te veel vir selfs die beter spanne se boulers in die o.13-portuurgroep. In boulbeurt 10 van Edugate se Johan de Vos het Horn elk van die ses balle vir ‘n ses oor die grenstou gemoker (saam met een wydloper was dit 37 lopies in die boulbeurt).
Nog ‘n Edugate-bouler, Wilco Janson, is kort tevore in boulbeurt 8 vir 34 lopies gemelk (6 6 4 6 6 6). In boulbeurt 12 kon Utjivera Mbaha ook nie juis antwoorde vind om 32 lopies te keer nie (6 6 6 6 6 foutbal 1).
Horn se 100-tal het ná 34 balle op die telbord verskyn en sy 200-tal vanaf 53 balle.
Sy spanmaat Francois Siepker (45 nie uit nie van 14 balle) het aan die einde ook vuur gemaak met vyf viere en drie sesse.
Teen Pro-Ed Akademie
In die middag se tweede eindstryd teen die kusstreekwenner Pro-Ed Akademie het Horn opnuut met 219 nie uit nie van net 77 balle (22 sesse en 13 viere) die grenstou gepeper.
Sy kolfwerk het sy span gehelp om 292/3 op die telbord te plaas en uiteindelik die wedstryd met 135 lopies te wen.
Francois Siepker was opnuut sy vernaamste kolfvennoot met 50 van 41 balle.
In dié wedstryd het Horn die mylpale 50 van 24 balle, 100 van 42 balle en 200 van 72 balle behaal.
Boishaai
Horn se uitsonderlike sporttalent trek reeds ‘n geruime tyd aandag. Die Hoër Jongenskool Paarl (Paarl Boys’ High) het hom ‘n volle beurs aangebied en vanaf volgende jaar sal hy sy skoolloopbaan in graad 8 by dié Wes-Kaapse spogskool voortsit.
Ook as rugbyspeler het Horn vanjaar vir Namibië by die o.13 Akademieweek in Oos-Londen uitgeblink – ongeag of hy as losskakel, heelagter of binnesenter ingespan is.
Gillmer se pa Hugo Horn het as rugbyspeler in drie Wêreldbeker-rugbytoernooie as ‘n haker gespeel (1999, 2007 en 2011), terwyl hy vernoem is na sy oupa Willem Gillmer wat in die 1970’s ‘n bedrewe skrumskakel vir Suidwes-Afrika was.
Hugo sê sy seun is deur Krieket Namibië bevorder om tans ‘n lid van die nasionale o.15-oefengroep (eerder as o.13) te wees. Dit is met die oog op die Suid-Afrikaanse interprovinsiale toernooi wat in Desember in Gauteng voorlê.
Vinnige feite
• Volgens die webblad CricClubs se statistiek het Horn sedert sy o.11-dae (waar hy volgens sy pa reeds as agtjarige begin speel het, deels ‘n gedwonge skuif vanweë die Covid-pandemie) reeds 10 297 lopies in 207 plaaslike wedstryde opgestapel, met 39 vyftigtalle en 31 honderdtalle.
Hierdie syfers sluit boonop nie van sy groot kolfbeurte op toere met Namibiese of Napso-spanne in nie.
• Net in 2025 sover het hy reeds ses dubbele honderdtalle in T20-wedstryde aangeteken.
• Vir die huidige kalenderjaar tel CricClubs vir hom 3922 lopies in 54 kolfbeurte (gemiddeld 156.88 / kolftempo 204.06 / 13 vyftigtalle / 14 honderdtalle).
• WAP se o.13-afrigter Stephan Swanepoel was in sy jong speeldae ‘n baie suksesvolle Namibiese kaptein na die o.19 Wêreldbeker, asook lid van die 2003 Wêreldbekerspan in eendagkrieket in Suid-Afrika.
• Mohit Ahlawat (gebore 25 Desember 1995) van Indië het in Februarie 2017 sover bekend die eerste kolwer geword wat ‘n 300-tal in ‘n 20-boulbeurtwedstryd aangeteken het.
• Aaron Finch van Australië (172 van 76 balle; teen Zimbabwe in 2018) is die rekordhouer vir die hoogste T20i-telling. Wes-Indië se Chris Gayle se 175* (66 balle) is die Indiese Premierliga (IPL) se rekordtelling (April 2013; RCB tn Warriors).
– [email protected]


