Gim se Black Diamonds herwin nasionale o.19-kroon

Skolenetbal
Logistieke verwarring het die NSSU se nasionale eindtoernooi ontwrig, maar op die baan het die spelers die trots van hul skole verteenwoordig.
Andrew Poolman

Windhoek Gimnasium se Black Diamonds het Saterdag met ‘n groot eindpoging die wurggreep afgeskud wat Windhoek Hoërskool se eerste netbalspan op die Namibiese Skolesportunie (NSSU) se nasionale o.19 Superliga toegepas het.

Gimnasium se o.19 Superliga-triomf met 33-23 is die skool se eerste titel sedert 2022, nadat WHS-spanne in 2023, 2024 en 2025 ‘n driekuns behaal het.

Die o.19-finaal was ‘n hoogtepunt van die nasionale netbal-eindrondte vir laer- en hoërskole, wat by die bane van Windhoek Gimnasium aangebied was.

Vir Windhoek Gimnasium se hoofafrigter Liezel Garbers was dié uitslag baie spesiaal, omdat sy ná 17 jaar in afrigting haar uittrede aangekondig het – asook vanweë die feit dat Reze Garbers, die jongste van haar dogters, vanjaar die spankaptein was.

“Ons het vanjaar ‘n redelik volwasse eerste span gehad, met sewe uit die elf wat in matriek is. Ons het vroeg in die jaar in Pretoria aan Affies se toernooi gaan deelneem, waar ons derde uit 18 baie sterk spanne van oraloor Suid-Afrika geëindig het.

“Ons het al ons ligawedstryde gewen, asook ons interhoër teen WHS.

“In Junie het ons in Loughborough in Engeland aan die Wêreldskolenetbaltoernooi gaan deelneem, waar ons in die o.19-afdeling tweede geëindig het. Dit was uiteraard vir die meisies ‘n ongelooflike ondervinding, wat hul selfvertroue ‘n groot hupstoot gegee het.”

Garbers wys uit dat die aanstelling van die voormalige Suid-Afrikaanse Proteas-hoofafrigter Dorette Badenhorst as direkteur van netbal vir die vier Curro-skole in die land (Windhoek Gimnasium, Oshana Gimnasium, Roots Gimnasium en Walvisbaai Gimnasium) ook ‘n wesenlike verskil gemaak het.

“Dorette was baie betrokke en het baie waarde tot die Black Diamonds bygevoeg.

“WHS was ‘n sterk span wat deur die loop van die seisoen al hoe beter gespeel het en in die finaal het hulle my baie senuagtig gehad. Maar in ‘n baie taai wedstryd het die Gim-spelers hul ervaring gewys en het van vroeg af hul stempel afgedruk om ‘n voorsprong op te bou wat hulle enduit behou het.”

Gimnasium se kampioenspan vir 2026 is Reze Garbers (kaptein), Hayley Kidd (onderkaptein), Hane Schierschmidt, Mólene Kaereho, Santie van der Walt, Abiola Izaacs, Shani Buys, Mathilda Shaduka, Charne de Beer, Janke Samuelson en Marike Weitz.

 

Superliga, voorste uitslae

Onder 19: 1 Windhoek Gimnasium, 2 WHS, 3 Tsumeb Gimnasium.

Onder 17: 1 Windhoek Gimnasium, 2 A. Shipena.

Onder 16: 1 Windhoek Gimnasium, 2 WHS.

Onder 15: 1 Windhoek Affies, 2 Windhoek Gimnasium, 3 Walvisbaai Gimnasium.

Onder 14: 1 Roots Gimnasium, 2 Windhoek Gimnasium, 3 Windhoek Affies.

Onder 13: 1 Windhoek Gimnasium, 2 Windhoek Affies, 3 Elnatan.

Onder 12: 1 Suiderhof, 2 Windhoek Gimnasium, 3 Roots Gimnasium.

 

Logistieke probleme

Die nasionale NSSU-finale is geteister deur logistieke uitdagings wat bygedra het dat verskeie prominente spanne uiteindelik glad nie deelgeneem het nie.

Die finale wedstrydprogram is uiteindelik eers Vrydagoggend aan skole bekend gemaak. Die organiseerders het hul aanvanklike plan laat vaar om eindstryde Sondagoggend te laat speel en ook daarna nasionale o.17-proewe aan te bied. Die program is uiteindelik in die laat ure van Saterdagaand afgehandel.

Walvisbaai Privaatskool het laas Woensdag sy spanne amptelik aan die nasionale uitspeelwedstryde onttrek.

Die skoolhoof Tony Tripodi skryf in sy kennisgewing: “Hierdie besluit is nie ligtelik geneem nie, maar berus eerstens op die skoolbeleid dat geen sportaktiwiteite onder die amptelike skoolnaam op ’n Sondag plaasvind nie.

“Tweedens, onopgeloste onreëlmatighede wat steeds in die Erongostreek, en spesifiek die Walvisbaai-sone, hangende is met betrekking tot netbal.

“Derdens, die afwyking van die aanvanklike NSSU-skrywe rakende die datum, tyd en venue, asook veranderinge wat op kort kennisgewing deurgegee is.

“Dis ’n hartseer dag wanneer ’n gesogte sportsoort voor so ’n besluit te staan kom weens die gebrek aan ’n alternatiewe plan sedert die onttrekking en afskaffing van die Superliga-struktuur en -formaat.

“Ongelukkig moet WBPS ’n ferm standpunt inneem om sy spelers nie bloot te stel aan ’n gebrek aan beplanning nie, en om ’n keuse te maak tussen die handhawing van waardes en ’n gebrek aan respek vir die waardes wat deel vorm van ons daaglikse dissiplinêre struktuur in die lewe.

“Die (WBPS se) genomineerde o.17-spelers bly steeds kwalifiseer vir die proewe op Saterdag en behoort nie benadeel te word op grond van hierdie besluit nie, aangesien dit op spanne betrekking het en nie op individue nie.

“Ons vertrou dat die besluit gerespekteer sal word op grond van die redes daarvoor.”

Tsumeb Gimnasium het ook kennis gegee dat sy spanne nie op Sondae speel nie en hoewel hy die NSSU krediet gee vir die insluiting van plattelandse skole se spanne, is kapsie gemaak teen die laat veranderinge in datums, tye en venues – veral omdat die ongerief negatiewe finansiële implikasies het vir ouers wat die wedstryde wil bywoon.

Pro-Ed Akademie (Swakopmund) en Moria Privaatskool (Outjo) was van die ander prominente netbalskole wat gevolglik by die nasionale eindtoernooi afwesig was.