Greeff en Miller puik op peil

Fietsry
Die derde byeenkoms van die 2024 Nedbank-resiesfietskompetisie is gisteroggend in relatief windlose toestande gejaag, maar die klimme vanaf Windhoek na die Matchless-myn se afdraai het opnuut die kaf van die koring geskei.
Tielman Van Lill
Anri Greeff (tevore Krugel) en Alex Miller het gisteroggend onderskeidelik die elite vroue- en mansafdeling van die Nedbank Windhoek Pedal Power-klub se derde padfietsbyeenkoms gewen.
Op die C28-roete naby die Matchless-myn wes van die hoofstad is Krugel deur Melissa Hinz, haar Hollard-spanmaat, en Jean-Marie Mostert (Cymot) gevolg, met die uiteinde dat Hollard die spankompetisie gewen het.
Miller (Toyota-Specialized), Namibië se hoëprofiel gewese Afrika-bergfietskampioen wat reeds nasionale titels op beide pad- en bergfiets gewen het, was onstuitbaar teen die klimme van die C28-pad na die kus.
Miller het die twee tienerjariges Roger Surén (tweede) en Theuns van der Westhuizen (derde) asook Drikus Coetzee (vierde) gemaklik afgeskud.
Die uitslae van beide die elite vroue en mans was teen druktyd nog as voorlopig aangedui.
Greeff het ná die resies gesê: “ Daar was ‘n bietjie wind van voor af veral as jy aan die voorpunt ry. Ons span het baie goed saamgewerk en besluit om van die begin af hard te ry en dit het goed uitgewerk. Ons was gelukkig om vroeg van die res van die ryers weg te breek en die res van die resies te beheer.
“Die Nedbank Windhoek Pedal Power-padfietsreeks sal eers weer in Augustus voortgesit word, maar die Pupkewitz Megabuild Tour de Windhoek is aan die begin van Mei hier in die hoofstad. Dit is die grootste een vir die jaar en ‘n hoogtepunt waarna ons ongelooflik baie uitsien.”
Die beskeie Miller was opnuut dankbaar teenoor Nedbank, die organiseerders van die resies asook sy mededingers.
“Die resies was nie maklik nie; die plaaslike ryers moet altyd dopgehou word en is deurgaans aan die voorpunt van die ren. Daar is ryers soos byvoorbeeld Roger (Surén), Kevin (Lowe), Martin (Freyer) en Drikus (Coetzee) wat al hoe sterker word. Dit is goed om teen hulle te jaag en terselfdertyd ‘n goeie oefensessie in te kry. Daar is geen beter oefenprogram as ‘n werklike resies nie.
“Ek het dit geniet en ek wil graag Nedbank en die organiseerders bedank wat bereid was om op ‘n Sondag ‘n geleentheid vir ons te skep om ons fietse te ry.
“Die Namibiese Fietsryfederasie bied komende naweek ‘n UCI XC-bergfietsbyeenkoms by die IJG Trails by Farm Windhoek en daar sal natuurlik ‘n paar Suid-Afrikaners ook wees. Dit is vir bergfietsryers die ideale geleentheid om UCI-punte op die wêreldranglys te verdien.
“Die daaropvolgende naweek is die nasionale XC-kampioenskap by dieselfde venue, waar ek gaan probeer om my titel te verdedig voordat ek na die Europese seisoen vertrek.
“Ongelukkig bots die Tour de Windhoek se datums met ander internasionale verpligtinge wat ek het, dus sal ek dit nie vanjaar kan ry nie,” het Miller aan Sport Wrap gesê.
[email protected]