Hoe later, hoe kwater in WHS-seisoen
Skolehokkie
Die Standard Bank WHS eerste span sal volgende jaar steeds 'n stewige kern behou.
Dit het harde werk gekos vir die Standard Bank WHS eerste span voordat hy Saterdagaand ná die Namibiese Skolehokkievereniging (NSHA) se Superligafinaal vir seuns die wentrofee omhoog kon hou.Hul oorwinning met 6-1 in die eindstryd teen St. George’s het WHS se afrigter Johann Weyhe beïndruk, met hul beste vertoning van die jaar.
Vir 2026 bly WHS steeds sterk geplaas met spankaptein Markus Botes een van 12 uit hul spelersgroep van 16 wat steeds behoue bly. Net Schalk Visser, Pieter van Wyk, Ruhan Venter en Hafeni Mufeti is in hul laaste skooljaar.
In die geheel was Botes, Wasabi Kahuure, Mark Wallace en Pieter Page van die uitblinkers wat vanjaar prominent tot hul ligatriomf bygedra het.
Weyhe sê WHS het vanjaar vier seunspanne gehad, wat dalk volgende jaar vyf kan word. Hy bring hulde aan die insette van sy mede-afrigter Siyabonga Martins (gewese Namibiese kaptein en nou ‘n internasionale skeidsregter), asook Hele Steenkamp by die tweedespan en Carien van Rooyen by die derdes.
KRAG EWEREDIG VERSPREI
WHS was die enigste staatskool onder die agt spanne in die seuns Superliga. Weyhe wys daarop dat die seuns Superliga in vorige jare danksy geesdriftige afrigters tot 14 spanne gehad het – insluitend van Gobabis, Rehoboth, Mariental en die kus.
Vanjaar was die agt spanne kop-aan-kop en geeneen kon met sekerheid voorspel wie die Superliga sou wen nie. Van 2017 tot 2019 het WHS gedomineer, maar nou is almal bykans op dieselfde vlak.
“Die standaard van hokkie by die kus het grootliks verbeter sedert die dae toe hulle op ‘n soutbaan gespeel het, tot nou met ‘n astro elk by Walvisbaai en Swakopmund. Afrigters soos Rohan Slabbert en Ruan Oosthuizen doen uitstekende werk daar.
“Walvisbaai en Pro-Ed Akademie se spanne het briljante spelers, met net min speelkans wat teen hulle getel het. Aan die einde van die dag bly speelkans en wedstrydfiksheid ‘n faktor in so ‘n kompetisie.
“In Windhoek sit ons met WHS, St. Paul’s, St. George’s, Windhoek Gimnasium en WAP. Om enige wedstryd hier te wen, moet jy werklik ‘n haas uit die hoed trek en jy kan nooit reken jy hoef bloot op te daag nie.
“Windhoek Gimnasium beskik oor baie goeie spelers en het met ‘n jong afrigter (Dakota Hansen) begin. Hulle was enduit baie kompeterend en het vyfde geëindig.
“WAP en St. Paul’s het met oortuigende puntetotale eerste en tweede klaargemaak, maar die res van die die topvier is eers op die laaste naweek bepaal. St. George’s het op die laaste naweek vir WHS met 1-0 geklop – ‘n uitslag wat beteken het St. George’s eindig derde en Gimnasium vyfde.
“In die eerste semifinaal het Windhoek Affies die eerste doel behaal, voor WHS gelykop gemaak het. Van die doele is behaal gedurende ‘n tydperk toe nie al die spreiligte in werking was nie en terwyl daar donker kolle was.
“Ná gewone speeltyd het die toeter afgegaan, maar die strafhoek moes afgehandel word en WHS het die wendoel deur die kaptein Markus Botes behaal. WHS (vierde) het dus die topspan WAP uitgeskakel.
“Vir WAP is hul kaptein Ludwig van Rooyen, Zander van Rooyen en Derick Nell briljant en kan op enige dag in ‘n nasionale groep wees. Volgens my siening het die verloop van die spel in die laaste kwart gedraai toe WHS volgehoue druk op WAP geplaas het, wat tot die strafhoek en die wendoel gelei het.
“St. Paul’s (tweede) teen St. George’s (derde) se semifinaal was een van die bes gestruktureerde wedstryde van die seisoen, van beide kante. Abraham Graham, Zach Philander en Arnaud Marais was vanjaar uitstekend vir St. Paul’s.
“St. George’s (nommer drie) het twee puik afrigters in die susters Jerrica Bartlett en Kiana Cormack. Hul doelwagter Lyle Bruys is in die nasionale o.20-span wat vir die komende Wêreldbeker (Oktober in Indië) gekwalifiseer het. In die middel van die baan was sy broer Liam Bruys ook ‘n sterk faktor wat vanjaar ook aan skolehokkie in Duitsland blootgestel was.
“Jadon McNally is ook ‘n baie vaardige speler wat deurentyd dopgehou moet word. In hul verdediging is Shayan Azadeh ook uitstaande.
“Weer eens het nommer vier die verrassing gelewer en nommer drie uitgeskakel, toe die wedstryd met 3-3 geëindig het en St. George’s met strafhoue (5-4) gewen het.”
FINAAL
In die bronsfinaal moes St. Paul’s onttrek toe die meerderheid van sy span met griep uitgeskakel is, wat die WAP die medalje by verstek besorg het.
Vir die goue medalje het WHS as die verdedigende nasionale kampioen sy beste uitgehaal vir die groot oomblik, ondanks hul vierde eindposisie op die puntelys.
“Ons laaste oefensessie Vrydagoggend was baie daarop gefokus op afronding om die gedugte Lyle Bruys in die doelhok te klop,” sê Weyhe.
“WHS het ná ses en sewe minute die voortou geneem met ‘n strafhoek-doele deur Ruhan Venter en Markus Botes.
“Van daar af was die verloop v an die spel baie gelykop, tot die 18de minuut toe WHS deurgebreek het vir ‘n velddoel deur Hafeni Mufeti (3-0).
“In die 21ste minuut het WHS se verdediging besit verloor en Jadon McNally het die fout gestraf met ‘n doel vir St. George’s.
“Ná rustyd was ek en mede-afrigter Siyabonga steeds lugtig vir St. George’s. Ons het toe ‘n deurslaggewende strategiese verandering laat aanbring, deur in die wyer kanale aan te val om spasie in die middelbaan oop te trek.
“Ons vierde doel is ná 28 minute deur Kotjii Tjiteere aangeteken, voor ons in die 42ste minuut weer deurgebreek het vir doel nommer vyf deur Pieter Page. Net soos in die semifinaal, het ons in die sekondes voor die eindfluitjie weer ‘n doel behaal (Hafeni Mufeti).
“Aan St. George’s moet ek alle erkenning gee – vir hul sportmanskap en kompeterende spel op die baan. St. George’s se laaste vorige verskyning in die seunsfinaal was in 2008 toe hul huidige afrigters se broer Bucko Bartlett die afrigter was.”