Honkong en Nigerië wag in opwindende reeks
Die Namibia Falcons, ’n ontwikkelingspan van Krieket Namibië, het vanaf 13 Junie in drie eendagwedstryde (50 boulbeurte) teen die besoekende Hongkong in Windhoek te staan gekom. Die Falcons het twee van die drie kragmetings gewen, met goeie individuele vertonings wat gelewer is.
Eerste wedstryd
Falcons (302/9 in 50 boulbeurte) klop Hongkong (270 almal uit in 49.4 bb) met 32 lopies.
In die eerste botsing het Michael van Lingen, die oud-Eagles-speler, 127 lopies van 113 aflewerings behaal. Hy het 18 viere en een ses teen ’n treftempo van 112.39 aangeteken. Hy het ’n ruk gelede uitgetree, maar lyk beslis weer lus vir die spel en is propvol krieket.
Dit is goeie nuus vir die FNB Eagles en die nasionale span se hoofafrigter, Craig Williams, asook Justin Kemp, Krieket Namibië se direkteur van krieket.
Alexander Volschenk het ’n goeie vyftigtal behaal met ’n treftempo van 85.90. Sy 67 lopies van 78 balle het twee viere en drie sesse ingesluit. Malan Kruger het ook sy merk as kolwer gemaak. Sy 42 lopies het van 58 balle gekom (5x4) teen ’n treftempo van 72.41. JC Balt het op nommer sewe gekolf en die Falcons se lopietempo met 25 lopies teen ’n treftempo van 192.31 aangejaag.
Die jong Max Heingo was die keur van die Falcons se boulers. Hy het drie paaltjies vir 55 lopies in 9.4 boulbeurte geneem teen ’n ekonomiese tempo van 5.69. Jack Brassell (2/58 in 10 bb, ekon. 5.8), William Lottering (2/50 in 9 bb, ekon. 5.56) en JC Balt (1/49 in 8 bb, ekon. 6.12) het ook hul teenwoordigheid goed laat geld.
Tweede botsing
Hongkong (281/8 in 50 bb) klop die Falcons (205 almal uit in 43.3 bb) met 76 lopies.
Van Lingen was nie by die wedstryd betrokke nie. Buiten drie kolwers van die Falcons het die res van die kolflys teen Hongkong gesukkel. JC Balt (68* nie uit nie, 93 b, 6x4, 1x6, 73.12%) en Alexander Volschenk (54, 74 b, 7x4, 72.97%) was die span se voorste lopiemakers. Volschenk het daarmee sy tweede vyftigtal van die reeks aangeteken. Jan Frylinck (25, 29 b, 2x4, 1x6, 86.21%) het net lekker aan die gang gekom toe hy uitgevang is.
Die Falcons se boulers was meestal nie uitstaande nie, maar Waldo Smith se suinige ekonomiese tempo van 3.3 en syfers van 2/33 in 10 boulbeurte verdien spesiale vermelding. William Lottering het ook twee paaltjies geneem (2/31 in 4 bb), maar was duur teen 7.75 lopies per boulbeurt. Ben Shikongo (ekon. 7.3), Jack Brassell (ekon. 6.1) en JC Balt (ekon. 5.57) het elk een paaltjie geneem.
Derde kragmeting
Falcons (314/7 in 50 bb) oorskadu die besoekers met 77 lopies. Hongkong (237/9 in 50 bb).
Malan Kruger (74, 106 b, 6x4, 69.81%) het berekend sy tyd geneem om aan sy kolfwerk vir die FNB Eagles te slyp. Gerhard Erasmus (67, 56 b, 5x4, 3x6, 119.64%), die Namibiese nasionale kaptein, het ook ’n kans as kolwer gekry en dit goed benut. Michael van Lingen (66, 45 b, 10x4, 146.67%) het opnuut sy klas gewys, terwyl Jan Frylinck (31, 45 b, 1x4, 68.89%), Zane Green (28, 22 b, 2x4, 1x6, 127.27%) en Alexander Volschenk (19, 15 b, 2x4, 1x6, 126.67%) belangrike bydraes gelewer het.
Kyle van Santen (3/49 in 9.5 bb, ekon. 4.98) en Jack Brassell (3/58 in 10 bb, ekon. 5.8) was puik vir die Falcons. Waldo Smith (2/25 in 10 bb, ekon. 2.5) was uitstaande en het die Hongkongse kolwers min ruimte gegun. Max Heingo (1/73 in 10 bb, ekon. 7.3) het ietwat van ’n afdag gehad. JC Balt (0/32 in 10 bb, ekon. 3.2) het wel nie ’n paaltjie geneem nie, maar sy waarde as draaibalbouler met sy suinigheid onderstreep.
Die Falcons
Michael van Lingen, Malan Kruger, Jan Frylinck, Gerhard Erasmus, Alexander Volschenk, Zacheo Jansen van Vuuren, Zane Green, Dylan Leicher, WP Myburgh, William Lottering, JC Balt, Kyle van Santen, Jack Brassell, Max Heingo, Waldo Smith en Ben Shikongo.
Die FNB Eagles begin môre met ’n internasionale T20-reeks teen Hongkong en Nigerië by die FNB Namibia-krieketstadion in Windhoek. Al vier wedstryde begin om 14:00 en kaartjies is by https://ticketing.ncg.com.na/ beskikbaar. – [email protected]


