Huiswerk wag vir Eagles

Krieket
'n Kwesbaarheid in die kolflys is veral sedert Gerhard Erasmus se besering onthul.
Tielman Van Lill
Hoewel die Richelieu Eagles die voorafgaande eendagreeks in Nepal teen die gasheerspan en Nederland met drie seges uit vier wedstryde gewen het, kon die Namibiërs nie dieselfde sukses tydens die internasionale T20-reeks (T20i) handhaaf nie.
Met Gerhard Erasmus voortydig huis toe met ’n tussenribbesering, was die Eagles se veelsydige aanslag ’n gevoelige knou toegedien. Boonop is die aanvangskolwer Niko Davin vir die T20i-reeks met die draaibalbouler en junior Eagle, PD Blignaut, vervang. Laasgenoemde het in net een T20i gespeel.
Sonder Erasmus en Davin se skietgoed kon die Eagles eenvoudig nie die Rhinos en die Vlieënde Hollanders tem nie. Laasgenoemde twee het deurgedring om Dinsdag in die T20-finaal te speel.
Dié T20-reeksnederlaag in Kirtipur sal ’n bron van kommer vir Pierre de Bruyn, hoofafrigter van Namibië, en die res van die Eagles-groep wees. Die T20-Wêreldbeker is skaars drie maande weg en die uitslag in Nepal was nie salf vir die siel nie.
Namibië het wel sy eerste T20i met 20 lopies teen Nepal gewen, toe Nicol Loftie-Eaton niks verkeerd kon doen op pad na die vinnigste T20-honderdtal in die geskiedenis nie.
Maar sedertdien het die wind van voor sterk teen die Eagles in hul laaste drie kragmetings gedraai.
Hul tweede wedstryd teen Nepal Vrydag was ’n maak-of-breek-situasie om hul tweede plek op die punteleer te behou. Nepal was met ’n swakker netto lopietempo en een sege teen Nederland in die derde plek.
Die Eagles-boulers het wel die gasheerspan Vrydag tot 180 lopies vir agt paaltjies in 20 beurte beperk, maar kon toe dramaties net met 177 in 20 antwoord.
Ben Shikongo (3 paaltjies vir 28 in 4 boulbeurte) en Jack Brassell (2/45 in 4) was die keur van Namibië se boulers. Die Eagles se aanvangskolwers het ongelukkig weer nie ’n antwoord vir Nepal se boulaanval gehad nie. KC Karan (2/49 in 4), Sompal Kami (2/34 in 4), Dipendra Singh Airee (2/29 in 4) en Abinash Bohara (1/32 in 4) was dodelik.
JJ Smit (50 van 26 balle, 60x4, 2x6) het ’n kapteinsbeurt op nommer ses gespeel en is goed deur nommer vyf Jan Frylinck (37 van 29 b, 2x4, 1x6) ondersteun. Kami en Karan het verwoesting gesaai. Die duo het van Malan Kruger (3 lopies) in die tweede en Michael van Lingen (10) in die sesde laat terugstap.
Op 133/3 ná 15, met 48 lopies benodig, was ’n sege binne bereik. Die keerpunt het in die 16de gekom toe Smit en Nicol Loftie-Eaton binne twee Airee-aflewerings uitgevang was. Loftie-Eaton (0) het met die eerste bal wat hy ontvang het ’n ses probeer slaan en is uitgevang.
Dit was die begin van die einde toe Smit en Frylinck se 88-lopievennootskap in die 16de beëindig is waar net 2 lopies bygevoeg was. Frylinck is in die volgende boulbeurt uit. Ruben Trumpelmann (14), Zane Green (23*) en Bernard Scholtz (4*) kon net-net nie die teiken haal nie, toe Karan KC in die laaste boulbeurt die wenteiken van 12 lopies verdedig het en Trumpelman laat uitvang het.
Tog so naby, maar tog so ver en as is verbrande hout. Indien Smit en Frylinck kon bly staan, of as Loftie-Eaton nie sy eerste bal uit die veld wou slaan nie, of as Trumpelmann nie met die voorlaaste bal van die 20ste uitgevang was nie, kon Namibië straks gewen het om in die finaal teen Nederland te speel.
GISTER
Reën het gister die laaste sê oor Namibië se heil gehad. Hul laaste groepwedstryd teen Nederland is op 98/4 ná die 15de gestop en toe afgelas.
JP Kotzé (6), Malan Kruger (24 van 18 balle), Jan Frylink (5) en JJ Smit (18 van 17) is uitgehaal, terwyl Nicol Loftie-Eaton (34* van 29 balle, 2x4 2x6) en Zane Green (11*) besig was om die versnelling te soek wat die Eagles nodig gehad het. Net met ’n oortuigende sege sou Namibië die oranje span se plek in die eindstryd kon afneem.
Nederland en Nepal sal gevolglik môre in die eindstryd speel.
[email protected]