ICC se boodskap ná inspeksie voor 2027 WB in Windhoek
Verteenwoordigers van die Internasionale Krieketraad (ICC) en die Plaaslike Reëlingskomitee (PRK) vir die ICC Wêreldbekertoernooi vir mans in 2027 is Vrydag by die FNB Namibië Krieketstadion verwelkom.
Die besoek het gedien as ’n terrein-inspeksie voor die ICC Wêreldbeker 2027, wat Namibië saam met Suid-Afrika en Zimbabwe sal aanbied.
Die toernooi keer vir die eerste keer in 24 jaar terug na Afrika-bodem. Dit bied aan Namibië ’n geleentheid om sy krieketvermoëns, toerisme-aanloklikhede en gasvryheid aan ’n wêreldwye gehoor ten toon te stel.
Namibië was die laaste stop op ’n inspeksietoer van drie weke wat gasheerstede in al drie die mede-gasheerlande ingesluit het.
Sarah Edgar, toernooidirekteur vir die 2027 Wêreldbeker, het positief teruggekyk op haar vorige samewerking met Krieket Namibië. Sy het opgemerk dat Namibië se onlangse aanbieding van die O.19 Wêreldbeker waardevolle ervaring gebied en as ’n uitstekende toets met die oog op 2027 gedien het.
Edgar sê: “Die omvang van die ICC Wêreldbeker – wat oor drie lande heen aangebied word – is ’n beduidende onderneming. Die sukses hang af van sterk samewerking tussen die ICC, sy plaaslike vennote (insluitend Krieket Namibië, Krieket Suid-Afrika en Zimbabwe Krieket), die PRK, die betrokke regeringsowerhede en ’n wye verskeidenheid ander belanghebbendes.
“Elke party het ’n kritieke rol. Die toewyding en gees van vennootskap wat ons tydens hierdie inspeksies ervaar het, is uiters bemoedigend.
“Ons het ’n stewige grondslag gelê, ’n duidelike begrip van prioriteite en aksies ontwikkel, en ’n gedeelde padkaart opgestel waarop ons in die komende 12 maande kan voortbou. Hierdie gesamentlike poging is noodsaaklik, ook om die geleenthede en langtermynvoordele vir ons gasheerlande te maksimeer.
“Wat die 2027 Wêreldbeker veral spesiaal maak, is die kans om die wêreld na Suider-Afrika te bring. Ons wil hê aanhangers moet nie net krieket van wêreldgehalte ervaar nie, maar ook die ongelooflike gasvryheid, kultuur en energie wat hierdie streek so uniek maak. Ons strewe is om ’n werklik onvergeetlike Afrika-Wêreldbeker aan te bied – met onvergeetlike ervarings skep en ’n blywende nalatenskap vir krieket in ons gasheerlande.”
DRIE NASIES, EEN HARTKLOP
Qondisa Ngwenya, uitvoerende hoof van die ICC Wêreldbeker 2027 reëlingskomitee, het die inspeksie beskryf as ’n belangrike mylpaal in die voorbereidings vir die toernooi.
“Dis ’n eer om Namibië voor die Wêreldbeker te besoek. Dit gaan oor drie nasies, een hartklop. Dit gaan daaroor om die drie lande bymekaar te bring om ’n skouspelagtige Wêreldbeker te lewer, ’n onvergeetlike en onmisbare geleentheid vir die spanne en ondersteuners regoor die wêreld.”
• Edward Khoza, bedryfshoof van die plaaslike reëlingskomitee vir WB 2027, het beklemtoon hoe belangrik dit is om die toernooi te benut om krieket te laat groei en die reikwydte daarvan in Namibië uit te brei.
“Namibië sal ses groot wedstryde aanbied, en daar is aansienlike belangstelling in hierdie wedstryde wat kaartjieverkope betref. Meer as 1,7 miljoen aanduidings van belangstelling is ontvang vir wedstryde wat in Namibië gespeel sal word; die wedstryd tussen Engeland en Bangladesj alleen het ongeveer 650 000 aanduidings van belangstelling gelok. Dis ’n groot mylpaal vir Namibië.”
Khoza het Namibiërs aangemoedig om ’n aktiewe rol in die verwelkoming van internasionale besoekers te speel.
REGERING BEVESTIG SY STEUN
Die adjunkdirekteur van die ministerie van onderwys, innovasie, jeug, sport, kuns en kultuur, Irvine Ndjavera, het die regering se verbintenis herbevestig.
“Ons besef watter enorme impak die aanbieding van ’n geleentheid van hierdie omvang op ons land kan hê, en ons verwelkom die inspeksie met die vertroue dat ons aan die vereiste standaarde sal voldoen.
“Die regering het vertroue in Krieket Namibië, en ons samewerking het reeds getoon wat ons kan bereik as ons saamwerk. Tydens die O.19 Wêreldbeker vir mans het ons ons toewyding as ’n rolspeler getoon, en ons werk steeds dag en nag om te verseker dat aan die nodige vereistes voldoen word.
“Hierdie toernooi skep ’n blywende nalatenskap vir Namibië – van die ekonomiese impak en infrastruktuurontwikkeling tot die voortgesette groei van krieket en ons status as ’n krieketnasie.”
• Krieketgeesdriftiges het tot 23:59 (Namibiese tyd) op 21 November om by tickets.cricketworldcup.com te registreer en die wedstryd van hul keuse te kies.


