Ierland klop Bokke, maar bonuspunt genoeg vir finaal

Rugby
Katharina Moser in Dublin

In ’n naelbytstryd in ’n stampvol Aviva-stadion in Dublin het Ierland se nasionale rugbyspan Saterdag die Springbokke in die sesde ronde van die Nasieskampioenskap geklop.

Die Suid-Afrikaners het ’n nederlaag van 17-20 gely, terwyl hul hoofafrigter Rassie Erasmus die wedstryd vanuit sy hotel moes volg. Erasmus dien tans ’n skorsing van ses wedstryde uit wat Wêreldrugby opgelê het op grond van sy openbare kritiek op die vertoning van wedstrydbeamptes.

Ierland, wat verlede jaar in Dublin met 24-13 teen Suid-Afrika verloor het, was teen rustyd met 17-10 voor danksy twee drieë deur regtervleuel Robert Baloucoune en een deur haker Ronan Kelleher, terwyl skrumskakel Morné van den Berg vir die besoekers gaan druk het.

Nadat ’n drie deur senter Canan Moodie vroeg in die tweede helfte nie toegeken is nie, het Ierland se losskakel, Sam Prendergast, sy span se voorsprong met ’n strafdoel vergroot.

'n Drie deur haker Malcolm Marx in die 57ste minuut het die Suid-Afrikaanse ondersteuners hoop gegee, maar geel kaarte vir die Ierse kaptein, Dan Sheehan, en die Springbok-plaasvervanger Marco van Staden – laasgenoemde is later na ’n rooi kaart opgradeer – het vir groot opgewondenheid en omstredenheid gesorg.

In die laaste tien minute het die Springbokke hard geswoeg om nog punte aan te teken, maar die oorwinning was stewig in Ierland se hande en uiteindelik welverdiend.

Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, het in ‘n nuuskonferensie agterna uitgewys dat Suid-Afrika steeds die eindstryd gehaal het, danksy ‘n verloorbonuspunt. Hy het egter ook erken dat die span “nie tevrede is met hoe hulle die afgelope twee weke gespeel het nie” en dat hulle “beter wil vaar”.

“Ons weet ons was glad nie op ons beste nie,” het Kolisi gesê. “Maar die belangrike ding is om saam te staan en op die laaste wedstryd te fokus; as ons daardie wedstryd kan wen, kan ons baie dinge verander.

“Dan kan ons van daar af werk om te sien hoe ons as ’n groep in die toekoms kan verbeter. Die belangrikste is dat ons as ’n groep saamstaan, nie na mekaar vinger wys en verdeeld raak nie.”

Ná ’n oorwinning van 45-17 vir Les Bleus teen Argentinië in Parys, sal Frankryk en Suid-Afrika volgende Sondag in Londen in die groot eindstryd van die eerste Nasieskampioenskap kragte meet, terwyl Engeland volgende Saterdag weer teen die All Blacks te staan sal kom in die uitspeelwedstryd om die derde posisie. Engeland het die All Blacks afgelope naweek met 37-12 verneder.