Ierland verloor ook derde ODI teen Eagles
Die hoog gerekende Ierland-krieketspan se toer in Namibië loop gevaar om ‘n nasionale ramp te word, nadat die FNB Eagles hulle gister vir die tweede keer ná mekaar in ‘n internasionale eendagwedstryd (ODI) geklop het.
Nadat Ierland Saterdag die eerste volwaardige toetsspelende krieketland geword het wat in ‘n ODI teen Namibië verloor, het die Eagles gister by die HP-ovaal gewys dat dit geen gelukskoot was nie deur opnuut met 63 lopies te seëvier, en met 2-1 in die reeks van vyf voor te loop.
Die 32-jarige Jan Frylinck het gister die fondasie vir die oorwinning gelê met ‘n puik honderdtal as kolwer nommer drie, met 126 lopies van 122 balle. Hy het nege viere en vier sesse geslaan, met die hoogste telling van sy drie ODI-honderdtalle.
Die aanvangskolwer Malan Kruger het hom ook met 42 van 46 balle laat geld (6x4), maar die grootste vennootskap van 102 lopies het daarna tussen Frylinck en Gerhard Erasmus (54 van 51 balle; 6x4 1x6) gevolg.
Namibië se gedugte totaal van 316 vir sewe is ook danksy kleiner bydrae van Louren Steenkamp (13), Nicol Loftie-Eaton (11 van 19 balle; 1x6), Alexander Volschenk (36 van 26 balle; 2x4 3x6), JJ Smit (12 van 11 balle) en Ruben Trumpelmann (9* van 6 balle; 1x4) opgestel.
Ierland het ‘n terugslag gekry toe hul toerkaptein Paul Stirling vanweë ‘n besering nie kon kolf nie. Tydens hul kolfbeurt het die Namibiese boulers vroeg die oorhand gekry en verseker dat die vereiste kolftempo algaande buite hul bereik geraak het.
Curtis Campher het hardnekkig teruggeveg met 106 van 86 balle (11x4 3x6) totdat hy deur Malan Kruger uitgehardloop is. Dit was egter Namibië wat laaste lag danksy die bouleenheid van Ruben Trumpelmann (2/37 in 7 bb), Jack Brassell (2/72 in 8), Bernard Scholtz (2/31 in 10), JJ Smit (0/40 in 8.5, een leeg) en Gerhard Erasmus (1/21 in 5).
Wedstryd nommer vier word Vrydag vanaf 09:30 by die FNB Namibië-krieketstadion gespeel.


