Jiu-jitsu-span oorskadu lang lys lande

Gevegsport
Andrew Poolman
Nege goue, nege silwer- en een bronsmedalje was die beloning toe 19 jong individue Namibië met trots by verlede week se Internasionale AJP jiu-jitsu-kompetisie in Kampsbaai in die Wes-Kaap verteenwoordig het.
Die moedige Namibiese span se algehele tweede plek ná Suid-Afrika was indrukwekkend boaan die lang lys deelnemende lande.
Suid-Afrika se totaal van 160 400 punte het geen gelyke gehad nie.
Namibië (16 800 punte) het behoorlik sy stempel op die puntelys afgedruk om voor die Verenigde Arabiese Emirate (9 200), Angola (8 800), Israel (1 800), die VSA (1 400), Brittanje (1 400), Litaue (1 400), Réunion (1 200), Nigerië (1 000), Nederland (1 000), Ierland (800), Costa Rica (600), Rusland (500) en DR Kongo (400) te eindig.
Onder die kundige afrigterskap van Professor Nilson Coelho het die span uitstaande vaardigheid, dissipline en sportmanskap uitgestal. Teen sterk internasionale mededingers het die jong Namibiërs hul vasberadenheid en talent bewys met 'n indrukwekkende medaljetotaal.
Hul merkwaardige tweede posisie is 'n historiese prestasie wat die land se groeiende vernuf in die sport van jiu-jitsu beklemtoon.
Die sukses weerspieël ook die steun van ouers en die breër Namibiese jiu-jitsu-gemeenskap, wat voortdurend belê in die ontwikkeling van gevegskuns oraloor die land.
Hoewel Namibië weens geldelike beperkings nie daarin kon slaag om die uitnodigings vir vier van sy jong vegters na die komende wêreldkampioenskap in Abu Dhabi (11-22 November) te aanvaar nie, het die sukses en blootstelling in die Kaap die plaaslike potensiaal behoorlik blootgestel.
Gelukwensings is in orde aan Z1 Akademie Namibië en Professor Nilson Coelho wat die landsvlag hoog laat wapper het as inspirasie van die volgende generasie kampioene dien.
Suid-Afrika se getalle klubs en deelnemers gee sy jiu-jitsu die voorsprong van veel meer gereelde sterk kompetisie, maar by die Windhoekse klub Z1 Akademie (Armstrong-straat, Suidelike Nywerheidsgebied) word voortdurend hoër gestreef, met afrigting wat in beide Gi en No-Gi aangebied word (grepe aan die klerasie, of daarsonder).
Coelho sê: “Brasiliaanse jiu-jitsu het goeie groeipotensiaal en baie goeie atlete in Namibië – nie net jong kinders nie, maar ook volwassenes. Ons getalle is nog klein, maar sedert verlede jaar maak ons beslis ‘n impak! Hierdie is bloot die begin van die opwindende reis vir Namibië.”