Jong vooruitsigte kom deur op MX-toneel

Motocross
'n Stewige skare het Saterdag die tweede been van die nasionale MX-kampioenskap ondersteun.
Tielman Van Lill
Die tweede been van die nasionale motocross-kampioenskapsreeks afgelope Saterdag by Gallina noord van Windhoek was beslis een van die strafste kompetisies die afgelope ruk.
Twee-en-veertig jaers het in hul onderskeie agt klasse die pap dik aangemaak en hierna was die Koning van die Stof-resies opnuut een vir die boeke. Die talentvolle Juan de Vos wat in die junior 125 cc-klas jaag, het tweede ná Mark Sternagel (ope-afdeling) oor die eindstreep geseil, met Sigi Pack (veterane) derde.
Die Koning van die Stof is die laaste resies van die dag waarin alle ryers vanaf die 85 cc- tot ope-klas mekaar oor 13 baanrondtes om die pragtige en goed voorbereide Gallina-baan pak. Dis altyd ‘n hoogtepunt vir die toeskouers en net die regte plek vir jaers soos De Vos wat kan wys wat in hulle steek.
Die klubman-jaers jaag saam met die vroue in een resies en hier het Lourens du Plessis en Zoe Waldschmidt mekaar lekker opgedreun. Waldschmidt het met rasse skrede verbeter en Du Plessis in haar stof gebêre totdat sy ‘n glipsie begaan en ‘n stukkie Gallina-grond aangeskaf het.
Waldschmidt aard na haar pa Ingo, want sy het opgestaan en vir Du Plessis tot die einde gejaag. Sy het gemaklik die vroue-afdeling gewen.
Mark Sternagel het natuurlik geen gelyke op ‘n MX-motorfiets in die land nie. Sy onverskrokke vernuf en talent is iets om te aanskou wanneer hy blitsig deur die draaie glip en vreesloos deur die lug vlieg. Sternagel het Saterdag ‘n foutlose vertoning gelewer, terwyl Rigo Wolf hard probeer het om hom te vang.
In die 50 cc-klas is Carter Bouwer tans onaantasbaar. Hy het al drie renne gewen en boonop met sy 50 cc-motorfiets aan die 65 cc-resies deelgeneem. Die pikkie lyk na ‘n massiewe talent vir die toekoms.
Die 65 cc-jaers soos De Wet du Plessis, Oliver Mathews, Markus Pack, Duhan van Wyk en Paul Mans het mekaar goed in toom gehou om enige glipsie of ontspanning om ‘n draai in ‘n oogwink uit te buit en verby te steek.
Die jeugdige jaers weet die 85 cc-kompetisie is binne ‘n jaar of twee tot hul beskikking en hulle huiwer nie ‘n oomblik om hul talent uit te stal om in die toekoms ook vir die Koning van die Stof te kwalifiseer nie.
Leander Metzger en Khian Kotze het mekaar nie ‘n duim ruimte in die 85 cc-resies gegun nie. Metzger het twee uit die drie renne gewen, terwyl Kotze een ingepalm het. Patrick Geiger was bestendig soos altyd en het deurgaans derde geëindig.
Die Pack-broers, Sigi en Olaf, is die onbetwiste topryers van die veteraanklas. Sigi het Saterdag al drie renne gewen en algeheel die klas oorheers, met Olaf tweede. Sigi se derde plek by die Koning van die Stof-resies is nie te versmaai nie.
Nadat die Gallina-baan voor die eerste nasionale been opgegradeer was, is dit opmerklik hoedat daar bykans geen stof is nie. Die organiseerders en veral Ingo Waldschmidt verdien ‘n pluimpie vir hul harde werk.

Die voorste uitslae:
50 cc: 1 Carter Bouwer, 2 Delmar du Plessis, 3 Markus Pack, 4 Mason Meyer, 5 Maximillian Skutch.
65 cc: 1 De Wet du Plessis, 2 Oliver Mathews, 3 Markus Pack, 4 Paul Mans, 5 Duhan van Wyk.
85 cc: 1 Leander Metzger, 2 Khian Kotze, 3 Patrick Geiger, 4 Connor Bouwer, 5 Christopher Still.
125 cc junior: 1 Juan de Vos, 2 Gero Friederich, 3 Jarno Metzger, 4 Bjorn Kebbel, 5 Marco Lindemeier.
Vroue: 1 Zoe Waldschmidt, 2 Ronja Friederich, 3 Gabrielle Still, 4 Maike Bochert, 5 Melanize Oberholzer.
Klubmans: 1 Lourens du Plessis, 2 JF van Eeden.
Veterane: 1 Sigi Pack, 2 Olaf Pack, 3 Jaco Huisamen, 4 Ronald Geieger.
Ope: 1 Mark Sternagel, 2 Rigo Wolf, 3 Tony Viljoen, 4 Tertius Joubert.
Koning van die Stof: 1 Mark Sternagel, 2 Juan de Vos, 3 Sigi Pack, 4 Gero Friederich, 5 Jarno Metzger, 6 Rigo Wolf, 7 Bjorn Kebbel, 8 Marco Lindemeier, 9 Olaf Pack, 10 Jaco Huisamen, 11 Ronald Geiger, 12 Tony Viljoen, 13 Tertius Joubert.
[email protected]