Kolwers en boulers blink uit in Desert Ice T20-reeks
Die hoogste kolftotaal van die Nedbank Desert Ice T20-ligaseisoen sover is Saterdag twee keer by die Wanderers-veld oortref, met die Green Mambas wat die eerste telling van meer as 200 lopies opgestapel het.
Ná die Green Mambas se wegholsege teen die Etungo Kudus bly hulle eerste geplaas op grond van netto lopietempo.
Die tweede geplaaste Gobabis Bulls is die ander onoorwonne span ná drie wedstryde elk, gevolg deur Spur Warriors (4) en die Run Whisperers as een van drie spanne wat tans op twee punte elk gelyk trek.
Nicol Loftie-Eaton (384 punte) se veelsydige bydraes vir die Mambas maak hom tot dusver die toonaangewende speler op die individuele ranglys, gevolg deur die Spur Warriors-kaptein Herman van Zyl (340), die Mambas-kolwer Henry Hayes (312), die jongelinge Junior Taanyanda (CCD Tigers, 268) en Reynard van Zyl (261) asook Gobabis Bulls se talisman Kobus Brand (215).
CCD klop Unam Zebras
United-veld: CCD Tigers (167/4) klop Unam Zebras (109 almal uit in 19.1 bb) met 58 lopies.
Speler van die wedstryd: Junior Taanyanda (CCD Tigers) 56 van 42 balle (4x4 4x6) en 2/8 in 3.0 bb.
Voordat Taanyanda in die laaste boulbeurt uitgehaal is, het Simon Shikongo (51 van 32 balle; 8x4 1x6) ook ‘n vyftigtal bygedra, terwyl Geo Haasbroek die kolftempo met 29 nie uit nie van 24 balle (2x4 1x6) hoog help hou het.
Ulrich Fortuin was die uitstaande bouler vir die Zebras met 2/10 in 4 bb.
As kolwer het Fortuin (14 van 17 balle) en Vernon Cloete (18 van 18 balle) vergeefs weerstand probeer bied en Jignesh Panchal se uithardloop vir 22 van 19 balle (2x6) deur Juan Meyer was ook deurslaggewend.
Simon Shikongo (2/17 in 2 bb), Nicardo Pienaar (1/14 in 3.1), Juan Meyer (1/24 in 4), Geo Haasbroek (1/21 in 3) en Wetu Tjilumbu (1/3 in 1) het saam met Taanyanda die Zebras-kolflys gehelp opruim.
• NTV se volledige uitsending, https://q.my.na/120V
Kobus brand los vir Bulls
Wanderers-veld: Gobabis Bulls (184/8) klop Spur Warriors (115/6) met 69 lopies.
Speler van die wedstryd: Kobus Brand (Gobabis Bulls) 46 van 16 balle (1x4 6x6) en 2/18 in 3 bb.
Gobabis is ingestuur om eerste te kolf en Josue Celliers het die kolfbeurt geopen met 36 van 36 balle (3x4) todat hy deur Tiaan van der Westhuizen uitgehardloop is.
Tesame met die vuurwerke van Brand se kolf het Tawanda Sithole (30 van 23 balle; 5x4) en later Fungayi Hlupo (28 nie uit nie van 15 balle; 3x4 1x6) ook die krane oopgedraai.
Vir die Spur Warriors het Jurie Engelbrecht (3/16 in 4 bb), Reynard van Zyl (1/28 in 4) en Marco Malan (2/30 in 3 bb) die beste gevaar.
Spur Warriors se lopiejaagtog was deurgaans agter die vereiste tempo, hoewel aanvangskolwer Andries Wahl (37 nie uit nie van 51 balle, 2x4) kortstondig steun van Marco Malan (26 van 15 balle; 1x4 3x6) gekry het.
Gobabis sal graag wil verbeter op hul vertoning van 15 wydlopers deur die nege boulers wat ingespan is, van wie Fungayi Hlupo (1/11 in 3 bb), Brand (2/18) en Willie Swart (1/8 in 2 bb) leiding gegee het.
Green Mambas se lopiefees
Wanderers-veld: Green Mambas (210/6) klop Etungo Kudus (42 almal uit in 10.3 bb) met 168 lopies.
Speler van die wedstryd: Alexander Parker (Green Mambas) 53 van 37 balle (5x4 2x6) en 3/1 in 1.3 bb.
Die hoogste totaal van die toernooi en die grootste wenverskil gemeet in lopies is deur die Green Mambas opgestapel, wie se geesdriftige ondersteuners die vertoning terdeë geniet het.
Die Mambas het vir Abrie Fourie (8) vroeg verloor, maar Henry Hayes (47 van 15 balle; 5x4 4x6) het tot die aanval oorgegaan en Nicol Loftie-Eaton (76 van 43 balle; 6x4 4x6) se vyftigtal in ‘n 83-vennootskap was ewe deurslaggewend.
Die jong Alexander Parker (53 van 37 balle; 5x4 2x6) het later as bouler ook uitgeblink (3/1 in 1.3 boulbeurte) in samewerking met die naatbouler Tangi Nuuyoma (3/20 in 3 boulbeurte) en draaibouler Joss Zondagh (4/13 in 4 bb).
Die Etungo Kudus (42 almal uit) het egter min weerstand gebied en sal moet hergroepeer voor hul volgende uitdaging.
Warriors ruk reg
United-veld: Spur Warriors (168/8) klop Run Whisperers (135 almal uit in 19.3 bb) met 33 lopies.
Speler van die wedstryd: Reynard van Zyl (Spur Warriors) 36 van 17 balle (5x6), en 3/31 in 3.3 bb.
Ná hul oggend-nederlaag teen Gobabis het die Warriors heelwat beter in Olympia gevaar. Marco Malan (47 van 22 balle; 4x4 4x6) het sy stempel afgedruk voordat Reynard van Zyl verdere vuurwerke kom lewer het.
Asad Abbas (3/13 in 4 bb) was loshande die beste bouler vir Run Whisperers, terwyl Christoff van der Merwe (1/10 in 2) en Kairavbir Singh Malhotra (2/38 in 4) ook hul rol gespeel het.
Vir Run Whisperers het Nirav Ladani (36 van 21 balle; 2x4 4x6) vroeg aangeval en Jaco le Roux (2/26 in 4) het dus ‘n slag geslaan om hom b.v.p. te betrap. Nicky Buys (30 van 20 balle; 4x4 1x6) en Wessel Myburgh (21 van 15 balle; 2x4 1x6) kon ook nie genoeg om hul span binne trefafstand te bring nie.
Spur Warriors se kaptein Herman van Zyl het vier paaltjies vir 22 in 4 bb geneem.
• NTV se volledige uitsending, https://q.my.na/GWE2


