Kudus en United gretig om momentum te behou

Klubrugby
Vier interessante kragmetings lê môre voor in die vroeë stadium van die seisoen.
Andrew Poolman

Reeds op die derde naweek van die Namibië Rugby-unie se premierliga se 2026-seisoen kruis die paaie van die twee spanne wat gesamentlik boaan die puntelys is.

FNB Wanderers (tien punte) en FNB Grootfontein (tien) is onderskeidelik eerste en tweede op die puntelys, met net hul punteverskil wat tans die onderskeid tref.

Wanderers – ná oorwinnings teen United (weg) en FNB Dolphin (tuis) – pak die reis noorde toe aan vir hul afspraak met Grootfontein, wat sover twee regmerkies teen FNB Unam (tuis) en FNB Western Suburbs (weg) aangeteken het.

In die Wit Hingste se agterkop sal hulle onthou dat Grootfontein in die laaste groot klubstryd van 2025, die finaal van die JSB Gold Cup, ‘n hardnekkige en welverdiende oorwinning met 37-32 in die Hage Geingob-stadion beklink het.

Die ervare Danie Koen is aangestel om die skeidsregter te wees.

 

Op Gemsbokpark

By die United-veld sal die tuisspan hom vetsmeer vir ‘n bulstryd teen die verdedigende kampioenspan, FNB Kudus.

Die Walvisbaaiers was ná die openingsnaweek boaan die puntelys nadat hulle op hul tuisveld met 45-20 teen FNB Rehoboth die krane oopgedraai het vir die maksimum ses ligapunte.

Laas naweek het Kudus ‘n loslootjie gehad, maar het kennis geneem dat United se agtsteman Ben Burger (vier drieë) en flank Thehard Lintvelt (twee) in die sege met 34-14 op Rehoboth uitgeblink het.

United se afrigter Herman Lintvelt het intussen vir Shaun White as hulpafrigter bygekry, nadat laasgenoemde na Windhoek verhuis het ná sy sukses met Kudus verlede jaar.

Lintvelt sê die Filistyne kon hul eerstespangroep grootliks onveranderd hou, afgesien dat Zander Bronkhorst terug in die prentjie op slot is om by Sven Albrightson oor te neem. “Ons weet Kudus sal ‘n sterk span bring en ons aanvaar dat ons die buiteperd is.

“Aspekte waarop ons baie graag wil verbeter, is ons algemene dissipline, asook die feit dat ons teen Rehoboth nie juis klinies was nie en verskeie kanse vir meer punte laat glip het.”

Cameron Langenhoven, die nuut aangestelde afrigter van Kudus, sê United het die nuwe seisoen met goeie momentum afgeskop vandat hulle die United tienmantoernooi gewen het.

“Ons gaan Windhoek toe en weet dit gaan ‘n groot uitdaging wees. Daarvolgens het ons in ons spankeuse ons beste presteerders gekies en ons sien uit na ‘n baie goeie, taai wedstryd,” het Langenhoven gesê.

United se premierligawedstryd teen Kudus, met Zaid Isaacs as die aangestelde skeidsregter, sal regstreeks deur die NTV-produksiespan op NTV en https://oneuptwo.com gebeeldsend word.

United Rugbyklub I: 1 Otja Auala, 2 Dandre Schreuder, 3 Jano Otto, 4 Zander Bronkhorst, 5 Leon Mutonga, 6 Richard Mupewa, 7 Thehard Lintvelt, 8 Ben Burger, 9 Elzandro van Wyk, 10 Hanreco van Zyl, 11 Jurgen Meyer, 12 DJ Holtzhausen (kaptein), 13 Suramie Kambombo, 14 Jandre Esterhuyzen, 15 Enrique Husselman.

FNB Kudus eerstespan: 1 Mogamat-Allie Emamdien, 2 Jarren Koning, 3 Carl-William Freygang, 4 Sheron Rossouw, 5 Adriaan Ludick, 6 Alexander Jansen (kaptein), 7 Lezardo Vos, 8 Ja-Tamson van der Berg, 9 Rayshawn Shoombe, 10 Denzo Bruwer, 11 Lucio Izaaks, 12 Arnando Dentlinger, 13 Justin Newman, 14 Henrick van Schalkwyk, 15 Ashton Mukwiilongo.

Reserwes: Roberto Lensley, Anthony Hoebeb, Cliffie Cowley, Clayton Camm, Roche Jansen van Vuuren, Abraham Iiyambo, Lloyd Jacobs, Aurelio Plato.

• In die onderste helfte van die puntelys is die twee bepalings soos volg:

Op Swakopmund: FNB Dolphin v FNB Rehoboth, 15:45 (skeidsregter Romario de Koker).

By Dr. Lemmer Hoërskool-veld op Rehoboth: FNB Reho Falcon tn FNB Western Suburbs, 15:25 (skeidsregter Henrico du Plessis).

• Wedstrydbepalings, uitslae en ligastand by www.fnbrugby.my.na