Kudus oorheers Dolphin in kusderby
FNB Kudus het FNB Dolphin Saterdag met 45-17 geklop in hul kusderby in die Namibië Rugbyunie se premierliga by die Tamariskia-sportveld in Swakopmund.
Kudus het ses drieë in die eerste helfte gedruk, waarvan vyf verdoel is, om rustyd met 40-5 voor te loop.
Vreemd genoeg was Dolphin, wat die telbord met ‘n verdoelde drie geopen het, in die tweede helfte veel meer doeltreffend met twaalf punte teenoor vyf. Vanaf ‘n skrum naby hul eie doellyn het Dolphin die bal na hul linkervleuel gestuur wat die lengte van die veld genael het vir ‘n aanskoulike drie.
Kudus, die heersende titelhouer, het uiteindelik wel met die maksimum ligapunte huiswaarts gekeer danksy hul sewe drieë. Die sewe driedrukkers was heelagter Aston Mukwiilongo, vleuel Lloyd Jacobs, losvoorspelers Alexander Jansen en Lezardo Vos, slot Sheron Rossouw, haker Jarren Koning en reserweslot Clayton Camm. Hul losskakel Aurelio Plato het met vyf doelskoppe geslaag.
Dolphin se afrigter Hauta Veii het agterna gesê die uitslag was nie wat sy span wou hê nie.
“Ons was nie mededingend genoeg nie. Die tweede helfte was veel beter en het bewys ons kan kompeteer. Ons moes net vroeër al begin inklim het,” het Veii gesê.
Kudus se afrigter Cameron Langenhoven het erken sy span het beheer verloor nadat hulle in die eerste helfte gedomineer het.
“Ek dink nie die insinking kan aan kondisionering toegeskryf word nie, maar eerder dat Dolphin daarin geslaag het om hul losser wedstrydplan op ons af te dwing. Ons het nie daarby aangepas nie en dis ‘n les waaruit ons moet leer.”


