Langbaanrenne-resiesseisoen met spoed afgesluit
Motorsport
Die vyfde en laaste rondte van die 2025 Namibiese nasionale langbaanrenkampioenskap is die afgelope Saterdag by die Tony Rust-renbaan wes van die hoofstad aangebied.Ekko Eisenberg (Klubmans Klas B), Clive Strydom (Klubmans Klas C) en Horacio Rietz (Klubmans Klas D) het hul onderskeie klasse ingepalm.
‘n Verbete tweestryd het in Klas B tussen Eisenberg en Allan Martin gewoed. Beide Eisenberg en Martin is Namibiese nasionale tydrenkampioene en het hul stempel met vernuf en finesse afgedruk.
Deon Friedenthal en Cecil Koorts het wel onderskeidelik derde en vierde in dié klas geëindig. Hoewel Koorts met meganiese probleme gesukkel het, het hy die tweede vinnigste rondtetyd van die byeenkoms ná Eisenberg aangeteken. Eisenberg se vinnigste rondte was met 71.83 sekondes, terwyl Koorts met 72.83 s vir Martin (72.89 s) net-net geklop het.
Friedenthal (74.25) het ook puik gejaag, maar kon nie by die vinniger jaers kers vashou nie.
Eisenberg het al drie renne van die dag met ‘n eerste plek ingepalm. Martin was in al drie sy resiese tweede, met Friedenthal in al drie derde.
Klas C
Hoewel Strydom nie die vinnigste rondtetyd in dié klas kon behaal het nie, het hy bestendig gejaag en twee van die drie renne van die byeenkoms gewen.
Hier het Koorts (74.17 s) vir Strydom (75.09 s) geklop met Marius van Zyl (76.86 s) wat die derde vinnigste baanrondte opgestel het. Ongelukkig kon Jan Everson nie aan een van die drie renne deelneem nie.
Klas D
Horacio Rietz was die enigste deelnemer in die klas, maar dit neem niks weg van sy durf en toewyding nie.
Die 2025-resiesseisoen was sy eerste avontuur by die Tony Rust-renbaan waar hy in Klas X as ‘n beginner weggespring het. Sy vinnigste baanrondte het as 79.46 s geregistreer. Hy is Eisenberg se tydrennavigator in die uitdaagafdeling (CR1) waar die twee in ‘n gedugte eenheid ontwikkel het.
Die voorste uitslae:
Klas B: 1 Ekko Eisenberg (27 punte), 2 Allan Martin (VW Golf, 21), 3 Friedenthal (VW Golf, 13).
Klas C: 1 Strydom (VW Golf, 25) , 2 Cecil Koorts (Mitsubisshi Evo, 9), 3 Van Zyl (Audi, 7).
Klas D: 1 Rietz (VW Golf, 10).
– [email protected]


