Looser klim weer die pad boontoe

Bergfietsry
Die wêreldkampioenskap in Italië was haar hardste toets sedert haar beenoperasie vroeër vanjaar.
Andrew Poolman

Namibië se Vera Looser, as die enigste mededinger van ‘n Afrika-land, het in die 26ste posisie by laas Saterdag se 2026 UCI Marathon-bergfietsry wêreldkampioenskap in Primiero San Martino di Castrozza in Italië klaargemaak.

Die 32-jarige elite fietsryer is geleidelik op die terugkeerpad na die hoogste vlakke van kompetisie, nadat sy in Meimaand vanjaar ‘n operasie ondergaan het om ‘n vernouing in ‘n aar in haar linkerbeen te laat regstel.

Die elite mans en vroue se afstand was beide 95 kilometer op ‘n roete wat bykans 4 000 meter se klimwerk vereis het.

Net 49 van die 61 vroueryers wat weggespring het, het die uitmergelende resies voltooi.

Switserland se Anna Weinbeer het die wêreldmarathon-titel in 5 ure 30 minute 54 sekondes ingepalm, voor Claudia Peretti van Italië (5:34:47), die 24-jarige Mona Mitterwallner van Oostenryk (5:39:13) en Melisa Rollins van die VSA (5:41:28).

Voor die kampioenskap in Italië het Looser, ‘n driemalige Olimpiese padfietsryer wat die afgelope jare haar spesialiteit in marathon-bergfietsresiese gevind het, verklaar dat sy realisties oor haar herstelpad moet wees.

“Dit voel vreemd om vir so ‘n ongenaakbare moeilike resies aan te tree, nadat ek vir so lank nie op hierdie vlak meegeding het nie.

“Ná my operasie in Mei was ek vir ses weke weg van die fiets af en het baie geleidelik weer my krag begin opbou. Die eerste twee weke op die fiets was basies maar net om die pedale op 100 watt aan die beweeg te hou.

“Eers in die laaste paar weke kon ek weer ‘normaal’ oefen, maar ongelukkig bestaan daar geen kortpad na goeie kompetisievorm nie. Ek is nietemin opgewonde om te sien waar ek tans staan en hoe my nuwe goue been gaan vaar.”

Nadat Looser aanhou worstel het om die eindstreep in ses ure 23 minute 06 sekondes te bereik, het sy op sosiale media berig: “Dit was ‘n laaang dag in die saal vir my. Vir die eerste vier ure van die resies het ek soort van oukei gevoel, maar my uithouvermoë het begin verdwyn en die laaste gedeelte eindstreep toe was baie lank en baie stadig. Die laaste 30 kilometer het my meer as twee ure geneem. Maar kom ons neem die positiewe hieruit ... ek is honger om meer goeie vertonings te lewer.”

Nadat Looser onlangs tweede in die Hollard Khomas100 (ook die Afrika-gruisfietskampioenskap) tussen Hayley Preen (RSA) en Anri Greeff (Namibië) klaargemaak het, het sy ook in mediaberigte gesê dat sy voorberei om in Desember by die Nedbank Desert Dash oor 401 km as ‘n solo-inskrywing haar fiksheid en selfvertroue verder voort te bou.