Miller en span beheer Tour de Windhoek van begin tot einde
Die Namibiër Alex Miller het gister vir die eerste keer die vierdaagse Pupkewitz Megabuild Tour de Windhoek gewen.
Die veelsydige 25-jarige tweemalige Olimpiese bergfietsryer, wat ook reeds drie maal die Namibiese nasionale padfietskampioen was, het vanweë oorsese verpligtinge as ‘n professionele bergfietsryer die onlangse jare van die Tour de Windhoek misgeloop.
Miller het gister ná die vyfde en finale skof gesê die werk van sy King Price Racing-spanmaats het grootliks bygedra om die oorwinning te verseker.
“Dit is super spesiaal; die oorwinning behoort ewe veel aan my spanmaats. Mense sien gewoonlik die draer van die geeltrui en die presteerders op die podium raak, maar minder aandag is op die spanwerk tydens die padresiese om teenstanders se aanvalle te hanteer. In geheel was dit ‘n aangename spanervaring.
“Ek het ook waardering vir King Price wat ons deelname moontlik maak en wat ook my deelname oorsee ondersteun. Pupkewitz Megabuild en ander rolspelers wat die organisering moontlik maak en in die sport belê, verdien ook erkenning.”
Miller het sy voorsprong reeds in Donderdag se 10 kilometer tydtoets gevestig, toe hy meer as drie minute vinniger as die res gejaag het. Die volgende dag het hy in die skof op die Dordabis-pad ook weggebreek om die pap dik aan te maak, en van daar het hy en span takties gery om die voorsprong te beskerm, terwyl hulle ook hul visier kon instel om die groen- en polkatruie hulle s’n te maak.
Miller se King Price-spanmaats was die ontluikende Suid-Afrikaanse ryer Ernest Roets, asook die Nammibiërs Marco Thiel, Mike Baartman, Marcel Henle en Martin Freyer.
Tweede titel vir Van Schoor
In die vrouetoer het die besoekende Suid-Afrikaanse ryers bygedra om ‘n vierdaagse kompetisie van goeie gehalte te lewer.
Die toerwenner Kelsey Jade van Schoor het waardering vir haar spanmaats van Team Pirtek Hollard uitgespreek, insluitend haar mede-Suid-Afrikaners Liezel Jordaan wat gister se vyfde en laaste skof gewen het, die 17-jarige Danika Lombard asook die Namibiërs Louise Breed en die nasionale kampioen Anri Greeff.
Van Schoor, wat die Tour de Windhoek vir die tweede keer gewen het, het gister by die eindstreep gesê sy geniet dit baie om in Namibië te kom meeding. “Ek is baie lief vir Namibië en sy mense. Almal hier is so vriendelik en dit maak die uitslag nog meer spesiaal.”
Anri Greeff was die tweedebeste individuele ryer in die toer, met ‘n algehele verskil van net 14 sekondes ná die saamgestelde tye van meer as sewe-en-‘n-half ure in kompetisie. Lize-Ann Louw (RSA, Tshenolo-span) was algeheel derde, met die volgende Namibiërs Rosemarie Thiel (sesde), Monique du Plessis (sewende) en Louise Breed (agtste).
ANDER TRUIWENNERS
Koning van die berge: 1 Alex Miller, 2 Igor Silva (Angola; JT300), 3 Ernest Roets (RSA; King Price Racing).
Koningin van die berge: 1 Anri Greeff, 2 Kelsey Jade van Schoor, 3 Liezel Jordaan.
Naelrit-kampioen: 1 Alex Miller, 2 Kilson Rodriques (Angola, JT300), 3 Marco Thiel.
Mans o.23: 1 Theuns van der Westhuizen (Hollard Elite), 2 Ernest Roets, 3 Christiaan van der Westhuizen (King Price).
Vroue o.23: 1 Danika Lombard (RSA, Pirtek Hollard); 2 Rosemarie Thiel (Namibië; Cymot Ladies).
Tour de Windhoek Light wenners: Marion Schonecke (veteraanvroue), Anneke Steenkamp (meestersvroue), Marion Himmel (grootmeestersvroue), Dawie Greeff (mans o.18), Again Sassinde (elite mans), Xavier Papo (subveteraanmans), Braam Vermeulen (veteraanmans), Hans du Toit (meestersmans), Douw du Preez (grootmeestersmans), Ananias Shilongo (bergfiets/grondpadfiets).
• Meer skofuitslae op bladsy 2.


