Min te kies tussen topspanne by Windhoek-klub

Gholf
Sportredaksie

Windhoek Gholfklub was die gasheer vir ‘n opwindende vol veld van 48 spelers wat laas naweek in ‘n dinamiese formaat meegeding het – “American scramble” vir die eerste nege putjies en vierspel vir die laaste nege. Die klubkompetisie Saterdag is deur Wanderers se Padel-klub geborg.

In ‘n kop-aan-kop kompetisie het die wenspan met 45 punte geëindig, met ‘n welverdiende oorwinning vir Dewald Coetzee en Justus Amutenya.

Gelyk op 45 punte, maar tweede geplaas op grond van ’n uittel, was Ndangi Nashiku en Likius Nande, terwyl George Vink en Corne Esterhuyzen met 40 punte derde klaargemaak het.

Die res van die topvyf was Jurgen Johannesson en Chris van Lill (vierde met 39 punte), asook Bertus Damon en Llewellyn Husselman (op uittel, 37 punte).

Die entoesiasme en kompeterende gees het die dag gedenkwaardig gemaak.

Bertus Damon (putjie 3), Allan Ogonje (putjie 9), Vilho Ndaikile (putjie 13) en Dewald Coetzee (putjie 17) het pryse met houe naaste aan die pen losgeslaan.

Gelukspryse geborg deur The Corner Butcher is deur Lucky Ngeyethu, Wisdom Moyo en Marvin Kamati ingepalm.